Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

GEMSBOK-UPINGTON: Na aanleiding van berigte oor pakkies ‘crisps’ wat onbekende pille bevat, wat ten minste twee maal in die omgewing opgeduik het, het die Gemsbok bietjie gaan ondersoek instel.
Dit volg nadat ‘n polisie-ondersoek van stapel gestuur is, nadat twee geheimsinnige wit pille na bewering ontdek is binne ‘n pakkie skyfies (crisps)  - wat glo deur leerders van Laerskool Kenhardt by ‘n plaaslike spaza-winkel gekoop is.
 Die ontstellende vonds is na bewering aangemeld deur ‘n graad 4-leerder, wat die pille onder ‘n onderwyser se aandag gebring het. 


Die Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, sers Timothy Sam, het bevestig dat die voorval op Dinsdag 5 November aangemeld is.
“Twee pakkies skyfies is glo by ‘n spaza-winkel in die omgewing deur leerders van die laerskool gekoop. Die polisie het sedertdien die dienste van die omgewingsgesondheidsinspekteurs (EHI) in die ZF Mgcawu-distrik verkry vir verdere nakomingsinspeksies en ondersoeke. Die EHI-verslag sal deel vorm van die polisie-ondersoeke,” het Sam gesê.
Hy het ook ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om die verspreiding van ongeverifieerde inligting aanlyn te vermy, en waarsku dat dit paniek kan veroorsaak.
“Die polisie doen ’n beroep op die publiek om nie boodskappe op sosiale media te plaas wat onbevestigde inligting bevat wat onnodige paniek kan veroorsaak nie,” het hy gesê.
Die Noord-Kaapse Departement van Onderwys het ook ingegryp en kommer uitgespreek oor die voorval en kennis te neem dat wetstoepassings-owerhede die saak aktief ondersoek.
Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement, het erken dat hoewel niemand gesondheidseffekte gely het nie, die voorval aansienlike kommer wek.
“Die departement is bekommerd oor die voorval wat by die Laerskool Kenhardt plaasgevind het. Hoewel niemand se gesondheid negatief beïnvloed is nie, is twee pille gevind in ‘n pak-kie skyfies wat buite die skoolterrein gekoop is. Die voorval is by wetstoepassingsowerhede aangemeld, wat ‘n ondersoek na die voorval doen om die veiligheid van die produkte wat deur straatverkopers verkoop word vas te stel en om toekomstige voorvalle te voorkom,” het Van der Merwe gesê.
Hy het bygevoeg dat die departement ’n be-roep op ouers en gemeenskappe gedoen het om waaksaam te wees en te verseker dat kinders veilige kos inneem.
“LUR Abraham Vosloo het die belangrikheid daarvan beklemtoon om te verseker dat leerders net veilige kos inneem. Hy het ouers, wettige voogde en skole versoek om waaksaam te wees. Ons prioriteit is die gesondheid en veiligheid van ons leerders terwyl ons kwaliteit openbare onderwys verskaf.
Kort na die voorval by die Laerskool Kenhardt, is daar na bewering ‘n soorgelyke voorval by Riemvasmaak aangemeld. Volgens ‘n stemnota het ‘n kind ‘n pakkie crisps by een van spaza winkels daar gekoop en twee pille daarin gevind.
Kinders wat deur eet en drinkgoed van spaza-winkels vergiftig word, omdat dit verval het of - in die nuustse tendens - pille bevat, is die afgelope tyd al hoe meer in die nuus.
Soortgelyke fotos word sedert begin Oktober reeds op sosiale media versprei.
Sover die Gemsbok kon vasstel is hierdie die eerste aangemelde sake in die Benede-Oranjerivier gebied.
 Slegs een van die gevalle het in die teenwoordigheid van ‘n volwassene plaasgevind en die toename van soortgelyke plasings van regoor die land, waar oop pakkies skyfies met verskillende soorte pille in op sosiale media geplaas word, het wel ‘n paar vrae rondom die egtheid van die bedreiging geopper.
  In al die foto’s wat die Gemsbok nageslaan het, is die hele pakkie se inhoud uitgestrooi en daar is altyd slegs twee pille per pakkie. 
Die pille in die pakkies toon geen teken dat dit lank in die pakkie was nie - Dit wek die volgende vrae: . 
 Watter kind strooi sy crisps uit en eet dit dan en waarom is die pille nie met die kleursel en geursel van die pakkies verkleur nie? 
Sou ‘n mens nie eers die chips opeet en dan die pille onder in die pakkie ontdek nie?
 Watter bewys is daar dat die pille by die spazawinkels in die pakkies gesit is en nie die fabriek wat die chips vervaardig nie?
Truda Foods, die vervaardiger van die meeste van die produkte in die sosiale media fotos, het in Oktober die volgende perverklaring uitgereik:
 “Verskeie fopnuusplasings oor ons handelsmerke het op verskeie sosialemediaplatforms die rondte gedoen. Dit is nie moontlik vir ‘n handelsmerk, datumgestempel en verseëlde pakkie versnaperinge om skade aan ‘n individu te veroorsaak nie. Kontroleer altyd die seëls van ‘n produk voordat jy dit koop. As die seëls ongeskonde is, is die produk 100% veilig. Ons doen ‘n beroep op die publiek om nie vals nuus op sosiale media te deel/plaas nie.”
Watter rede sal daar wees vir winkel-eienaars om hulle produk met onwettige medikasie te vul, as dit so maklik teruggespoor kan word tot by sy besigheid? 
Word hierdie handelsmerke slegs deur spazawinkels verkoop of kry jy dit ook in groothandelwinkels? 
Die polisie se beroep op die publiek om nie boodskappe met “onbevestigde inligting” op sosiale media te plaas  en  “onnodige paniek kan veroorsaak” laat jou ook wonder of hulle die egtheid van die voorvalle betwyfel.
 Hoewel ten minste twee voorvalle deur volwassenes bevestig is en deur die regte kanale (SAPD en omgewingsgesondheid) ondersoek word, lui daar klokke van ongeloof met betrekking tot die egtheid van die meerderheid voorvalle op sosiale media oor die pille in die pakkies gevaar...
Kan dit wees dat      hierdie net nog ‘n sosiale media foefie is, wat hand uitruk of selfs ‘n bose xenofobiese plan om net weer eens ons buitelandse sakelui in ‘n verdagte lig te stel?