GEMSBOK-UPINGTON: Dokumente wat daarop dui dat ‘n lid van beide die provinsiale regering, asook die ZFM distriksmunisipaliteit - dubbele salarisse ontvang het, het die afgelope week aan die lig gekom. Die dubbele staatssalarisse is van die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit en die provinsiale departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming aan Moses Moalosi betaal. In Maart 2021 het Moalosi bedank as die distriksspeaker van ZF Mgcawu Distriksmunisipaliteit. Na sy bedanking - word beweer dat hy moontlik deur die munisipaliteit heraange-stel is - aangesien die jongste betaling van die munisipaliteit aan hom gedateer is April 2023. Volgens dokumente in besit van die Gemsbok het die munisipaliteit hom meer as R35 000 per maand vir Februarie, Maart en April betaal.
Luidens dokumente in besit van die Gemsbok het Moalosi op 5 Desember 2022 sy aanvaardingsaanbod van indiensneming by die Departement van Landbou - as portefeuljekoördineerder - onderteken en op 6 Desember diens aanvaar by sy Kimberley-kantore. Dit is onduidelik hoe lank sy kontrak was, aangesien hy maande later nog ‘n kontrak onderteken het, wat sy diens met ses maande verleng het. Sy jaarlikse salaris is volgens die kontrak R811 560.
Wat verrassend is, is dat daar glo nog nooit ‘n pos as portefeuljekoördineerder in die departement was nie. Daar word vermoed dat - as gevolg van die kaderontplooiing word hierdie poste geskep - sodat sekere hooggeplaasdes steeds werk kan hê.
Volgens die Ministeriële Handboek gedateer 13 April 2023 kan ‘n portefeuljekoördineerder egter geskep word vir die LUR’e verantwoordelik vir departemente. Dit was glo die skuiwergat wat gebruik is om Moalosi se verlenging goed te keur. Die Gemsbok het intussen dokumentasie ontvang - waarin dit lyk asof Moalisi ‘n gedeelte van sy dubbele salaris aan ZFM terugbetaal het.
Navrae oor die kontroversiële dubbele salarisse aan beide die departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming, asook die ZF Mgcawu Distriksmunisipaliteit, is ter perse nog nie geantwoord nie.