GEMSBOK-VIOOLSDRIFT: ’n 59-jarige man wat na bewering twee van sy kennisse by sy huis geskiet het, is borgtog van R5 000 deur die Springbok-distrikshof toegestaan.
Jacobus “Japie” Dawid Claassens staan tereg op twee aanklagte van moord ná die voorval wat op 31 Oktober 2023 plaasgevind het.
Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder van die Noord-Kaap, Mojalefa Senokoatsane, het gesê die beskuldigde het homself ná die voorval aan die polisie oorgegee.
“Die beskuldigde het na die polisiestasie gegaan om die skietvoorval aan te meld. Toe die polisie by sy huis aankom, het hulle twee slagoffers kritiek aangetref en is hulle na Upington gehaas vir mediese bystand. Die beskuldigde is gearresteer en aangekla van twee aanklagte van poging tot moord.
“Tydens sy verskyning het die twee slagoffers gesterf en die aanklagte is na moord verander.”
Senokoatsane het bygevoeg dat die aanklaer borg teenstaan.
“Die borgtogvoorwaardes is dat die beskuldigde elke Saterdag by die naaste polisiestasie moet aanmeld. Hy moet ook nie direk of indirek kontak met getuies hê nie, by sy huidige adres bly en sy bewegings by die ondersoekbeampte aanmeld indien hy sy adres binne 24 uur sou verlaat nie.
“Die beskuldigde moes ook sy paspoort by die ondersoekbeampte inhandig. Laastens moet hy nie by enige skedule een-oortreding betrokke wees nie. Die saak is tot 13 Desember vir verdere ondersoek uitgestel.”