GEMSBOK-UPINGTON: Verskeie raadslede het glo Vrydag uit ZF Mgcawu Distriksmunisipaliteit se spesiale raadsvergadering gestap - nadat die speaker, Stanley Pietersen, onregmatig besluit het om ‘n Mosie van Wantroue (MONC) wat teen die uitvoerende burgemeester ingedien is, te skrap.
Hy het volgens sommige raadslede hierdie besluit geneem, “toe dit duidelik geword het dat die mosie sou slaag”.
Soos die mosie voortgegaan het, het dit duidelik geword dat die pro-burgemeester slegs elf stemme teen die mosie sou hê, uit drie-en-twintig raadslede wat teenwoordig was.
Dit sou nie genoeg stemme gewaarborg het om die MONC teë te staan nie.
Dit het daarop gedui dat die huidige uitvoerende burgemeester, Maureen Basson, uitgestem kan word.
Die speaker se optrede word as hoogs onreëlmatig beskryf, aangesien hy dit glo aanvanklik goed geag het om die plasing van die MONC op die raadsagenda goed te keur.
Die MONC is geïnisieer om die uitvoerende burgemeester aanspreeklik te hou vir die beskerming van die aanstelling, van die waarnemende munisipale bestuurder, Alfred Tieties, ondanks ‘n opdrag van die LUR van CoGHSTA, wat die aanstelling van Alfred Tieties onwettig verklaar het.
Basson het die opdrag van die LUR vir sewe maande van die raad weerhou, die waarheid weggesteek en volgens sommige raadslede die onreëlmatige en ver-kwistende befondsing van Tieties-vergoeding voortgesit en verdiep.
Ná die uitstap van die opposisie het die vergadering gepoog om ‘n dissiplinêre komitee te stig om sterk op te tree teen die opposisie.
Die vergadering het egter nie meer ‘n kworum gehad nie, wat dit onwettig maak.
Die LUR van COGHSTA, Bentley Vass en SALGA sal binnekort gevra word om ondersoek in te stel en in te gryp.