GEMSBOK-UPINGTON: Kort nadat die Gemsbok se berig oor die voormalige waarnemende munisipale bestuurder by die ZF Mgcawu Distriksmunisipaliteit se onwettige posbekleding, is ‘n dringende virtuele spesiale raadsvergadering die afgelope Donderdag gehou, waarna die nuus gebreek het, dat die kontroversiële Alfred Tieties, met onmiddelike effek bedank het.
Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat Tieties deur die raad aangestel is om van Mei tot Julie in die pos waar te neem, met sy kontrak wat daarna elke drie maande verleng is.
Die LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Coghsta), Bentley Vass het teen die onwettige aanstelling afgeraai.
Vass het gesê dat Tieties nie die vereiste kwalifikasies, vaardighede, bevoegdhede of voorgeskrewe ondervinding vir die pos het nie.
“Die waarnemende aanstelling is in stryd met plaaslike regeringsregulasies oor die aanstelling en diensvoorwaardes van senior bestuurders,” het Vass gesê.
Hy het verduidelik dat die rol ‘n baccalaureusgraad in openbare administrasie, politieke wetenskap, sosiale wetenskappe, regte of ‘n gelykwaardige rigting vereis.
“Die suksesvolle kandidaat moet relevante senior bestuursvlak-ervaring en bewese ervaring in institusionele transformasie in die openbare of privaatsektor hê,” het hy bygevoeg.
Vass het daarop gewys dat slegs die direkteur van korporatiewe dienste en die direkteur van ontwikkeling en beplanning toegelaat is om as munisipale bestuurders op te tree.
“Hoof finansiële beamptes word nie toegelaat om as munisipale bestuurders op te tree nie,” het hy verduidelik.
Hy het verder gesê dat hy die uitvoerende burgemeester en raad by verskeie geleenthede toegespreek het, maar die raad het voortgegaan om munisipale regulasies te verontagsaam.
Hy het aanbeveel dat ‘n geskikte persoon gesekondeer word om die vakature te vul totdat die pos geadverteer en gevul is.
“Die waarnemende tydperk vir waarnemende senior bestuurders is slegs ses maande. Daarna kan die munisipale raad die LUR versoek om ‘n kandidaat te sekondeer totdat ‘n geskikte kandidaat aangestel is. Tot op hede is geen versoek deur die munisipaliteit gerig om enige onregmatige waarnemende posisie te vermy nie,” het Vass in korrespondensie opgemerk.
Tebogo Monyo, woordvoerder van Coghsta, het gesê die raad het die aanstellingsbesluit geneem sonder om die departementshoof of die LUR te raadpleeg.
“Die kwessie van nie-nakoming van regulasies deur sommige munisipaliteite bly ’n bekommernis vir die LUR. Die regering ontwikkel voortdurend meganismes om stelsels te versterk en om groter nakoming van die regulasies te verseker,” het Monyo bygevoeg.
Martha Clarke, woordvoerder van die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit, het aangedui dat die bedanking van die waarnemende munisipale bestuurder tydens die spesiale raadsvergadering op 7 November ter tafel gelê en aanvaar is.
“Die raad het die direkteur van beplanning en ontwikkeling Isak De Waal aangestel om as munisipale bestuurder op te tree ooreenkomstig die plaaslike regering: en munisipale regulasies vir ’n tydperk van drie maande of totdat die vakante pos gevul is.”
Sy het bygevoeg dat De Waal die voormalige munisipale bestuurder en direkteur van tegniese dienste by Kai !Garib plaaslike munisipaliteit was.
“Hy het ‘n Baccalaureus Artium-graad in Munisipale Bestuur wat in 2002 aan die Randse Afrikaanse Universiteit verwerf is. Hy is in 2013 met ‘n nagraadse onderwyssertifikaat van die Universiteit van Suid-Afrika toegeken. Daar word verwag dat hy ‘n honneursgraad in Publieke Administrasie sal voltooi by Universiteit Stellenbosch vanjaar.” Clarke het bygevoeg dat hy uitgebreide kennis en ervaring in dienslewering na die munisipaliteit gebring het.
“Die raad van die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit wens De Waal sterkte toe met sy amps-termyn en antisipeer positief wat sy leierskap te bied het. Die distriksmunisipaliteit handhaaf die hoogste standaarde van korporatiewe bestuur en deursigtigheid in al ons saketransaksies en ons gaan voort om die reputasie en integriteit van ons instelling en die mense wat ons dien te handhaaf,” het sy gesê.
Intussen het die sosiale media publiek hulle kommer oor die bestuursvaardighede van De Waal uitgespreek, nadat jare lange bestuurspro-bleme by die Kai !Garib Munisipaliteit, steeds onopgelos is.