GEMSBOK-UPINGTON: Die Noord-Kaapse departement van onderwys het die afgelope week die beloofde R100 miljoen aan skole uitgedeel, om - soos in Feruarie beloof - dringende behoeftes binne die provinsiale skoolstelsel aan te spreek.
Die departement sê die uitbetalings is deel van hulle norme en standaardtoekennings.
“Hierdie fondse is toegeken vir noodsaaklike behoeftes, insluitend leer- en onderrigonder-steuningsmateriaal, munisipale dienste, spesiale skole, koshuissubsidies, sentrums vir vroeë kinderontwikkeling (VKO) en leerdervervoer,” verduidelik Geoffrey van der Merwe, woord-voerder van die departement.
Die Noord-Kaapse departement van onderwys moes in Febraurie vanjaar, na weke se beweringe oor die wanbesteding van fondse en versuim om aan sy finansiële verpligtinge na te kom, in strategiese samewerking met die kantoor van die premier en die provinsiale tesourie, hierdie noodtoewysing van R100 miljoen verkry om dringende behoeftes binne die provinsiale skoolstelsel aan te spreek.
Ouers en voogde wat hul kinders in Januarie skool toe geneem het, is met ongekende versoeke vir skryfbehoeftes, skoonmaakmateriaal en ander items ontvang, aangesien die departement sedert 2024 versuim het om befondsing vir leer- en onderrigondersteuningsmateriaal, instandhou-ding, voedselskemas en ander noodsaaklikhede te betaal.
Die departement het aanvanklik net 27% van skole se fondse vir leer- en onderrigondersteu-ningsmateriaal betaal en klasse sonder skryfbehoeftes gelaat.
Skole ontvang ook net 35% van hul koshuis-subsidies vir twee kwartale, wat ernstige finansiële tekorte op baie kort kennisgewing veroorsaak
Intussen is altesaam R22 miljoen regstreeks aan munisipaliteite regoor die provinsie betaal om skole by te staan wat sukkel om hul munisipale dienskoste te dek.
Hierdie ingryping was deurslaggewend om elektrisiteitsonderbrekings by skole te voorkom, wat hul bedrywighede negatief kon beïnvloed het.
“Alhoewel daar steeds ‘n tekort in die befondsing verskaf is, is ons bly om te rapporteer dat skole voortgaan om glad te funksioneer sonder enige ontwrigtings.” sê Van der Merwe.
Die Departement is in deurlopende kommunikasie met die Provinsiale Tesourie - om die tydige uitbetaling van fondse aan skole in die nuwe finansiële jaar te verseker.
“Met hierdie saak nou opgelos, doen ons ‘n beroep op al ons belanghebbendes en vennote in onderwys om saam te staan in ons pogings om leerderuitkomste en die algehele gehalte van onderwys te verbeter. Ons departementsamptenare werk ywerig om deurlopende ondersteu-ning aan skole en leerders te bied.”