GEMSBOK-UPINGTON: By Hoërskool Duineveld sal Nasionale Melktertdag, 27 Februarie 2024, lank onthou word. Juffrou Sharlene Venter het die idee van ‘n melktertverkoping gehad en die hele skool was vuur en vlam.
Die Afrikaans Huistaal graad 12 D klas, van juffrou Sharlene, was so entoesiasties, dat hulle sommer onmiddellik na die verkoping afgekondig is, 20 melktertjies bestel en betaal het. Daarna het die bestellings ingestroom tot ‘n rekordgetal van 970!
Die melktertjies, wat deur SPAR gebak is, was ‘n lekker grootte en suikersoet. ‘n Mens kan regtig verstaan hoekom die tradisionele melktert steeds gewild is in Suid-Afrika.
Hierdie fondsinsameling is ook gehou ten bate van die Kultuurgroep in Veltieland. Om betrokke te wees by kultuur, is ‘n groot lekkerte in Duineveld.
Parke doen bewusmaking by skole
Die Sosio Ekonomiese Transformasiespan van die Ariëde Streek van SANParke, het onlangs ‘n streeksvergadering by Augrabies Waterval Nasionale Park gehou. As deel van hul aktiwiteite het hulle bewusmakingsessies by Augrabies Intermediêre Skool sowel as by Assumpta RC Primêre Skool gehou.
Aletta Links- SET beampte van |Ai-|Ais/Richtersveld Oorgrenspark aan die woord.
Tydens die Sosio Ekonomiese Transformasiespan se streeksvergadering, het Tshepiso Lephara- SET Beampte van Mokala NP ook deelgeneem aan die bewusmakingsessies. Die kinders het gevind dat die sessies leersaam was en het
heelhartig deelgeneem.
Ondersteuningsprogram vir Wiskunde- en Wetenskap geloods
GEMSBOK-KURUMAN: Die John Taolo Gaetsewe Distriksdepartement van Onderwys en Kathu Solar Park, het 'n Wiskunde- en Wetenskap-inisiatief by meer as 50 gemeenskapskole ingestel.
'n Omvattende Wiskunde- en Fisiese Wetenskap-ondersteuningsprogram, in lyn met die KABV-kurrikulum, is tans aan die gang in die Kathu/Kuruman-area, wat nagenoeg 42 000 leerders sal bevoordeel
Na die suksesvolle bekendstelling van hierdie Wiskunde- en Wetenskapprogram, met 'n groot impak in Mei 2023, het die tweede fase van die program aan die einde van verlede jaar begin.
Tydens die amptelike bekendstellingsgeleentheid, wat in Kuruman gehou is, is IKT-toerusting (inligtingskommunikasietegnologie) aan verteenwoordigers van die betrokke skole, oorhandig.
Asbesskool gevaarlik vir inwoners van Noenieput
GEMSBOK-NOENIEPUT: Rolspelers het ’n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ingedien ná ernstige kommer oor asbesbesmetting by die Laerskool Noenieput-gebou in die ZFM-distrik.
‘n Toesighoudende inspeksie wat laat verlede jaar gedoen is, het bevestig dat kwesbare inwoners in die gebied die gebou beset en ander stroop die skool van materiaal wat vir konstruksie gebruik kan word.
Hierdie strukture is met asbes besmet en hou ernstige gesondheidsbedreigings in vir die omliggende gemeenskap, veral diegene wat op die perseel woon en diegene wat die skoolinfrastruktuur plunder.
Alhoewel die gebou nie veilig is om as ‘n skool gebruik te word nie, is die versuim deur die onderwys- en paaie- en openbare werke-departemente om regstellende stappe te begin, kommerwekkend. Die gebou moet beveilig word om die verdere verspreiding van asbesbesmetting te keer.
Topline skool onveilig, sê ouers
GEMSBOK-TOPLINE: Die LUR van Onderwys in die Noord-Kaap, Zolile Monakali, het die Topline Intermediêre Skool in die ZF Mgcawu-distrik besoek, nadat die gemeenskap die skool gesluit en leerders toegang tot die skool geweier het.
Hulle het die verskuiwing van hierdie skool in die gemeenskap geëis.
Ouers het geweier dat hul kinders in “‘n onveilige hawe verkeer vir geleerdheid”.
Daar word aangedring dat ‘n nuwe skool in die woonbuurt gebou word, sodat die leerders veilig kan wees en nie elke dag die lang roete in die 39grade son hoef deur te maak nie.