Klerksdorp Rekord, Orkney - Familie van die vermoorde Ria Jansen van Vuuren van Orkney het hulle nou na die privaatondersoeker Mike Bolhuis gewend in ‘n poging om antwoorde te kry op wat regtig daardie noodlottige Vadersdag gebeur het. Ria, ‘n teatersuster by ‘n Klerksdorpse hospitaal, is vermoedelik deur haar eksman in die gesig geskiet.
Die familie het egter hoop verloor om reg te laat geskied nadat Johan (52), die eksman, verlede week by sy huis beswyk het. Daar word vermoed dit was ‘n hartaanval. Johan was skaars twee maande terug by die huis waar die treurspel afgespeel het, nadat hy op 15 Augustus op borgtog van R3 000 vrygelaat is.
Hy was sedert die voorval op 18 Junie in aanhouding. Op Woensdag 11 Oktober was hy dood.
Antoinette Coetzer, een van Bolhuis se ondersoekers, het aan Klerksdorp Rekord gesê Ria se familie wil steeds hê geregtigheid moet geskied en die waarheid oor wat daardie oggend gebeur het, moet uitkom. “Daar heers baie verwarring, veral nadat Johan in sy borgaansoek gesê het hy het haar perongeluk geskiet. Haar familie glo dit nie vir een oomblik nie.’’