Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die Matlosana Munisipaliteit se Departement van Gemeenskapsdienste sukkel tans by die begraafplase in die Kosh-gebied weens onlangse swaar reënval wat ondergrondse water veroorsaak het.
Sowat 90% van die begraafplase word hierdeur geraak, wat begraafplaas-bedrywighede ernstig ontwrig, sê woordvoerder Ntswaki Makgetha. Die oorstroming van grafte lei tot vertragings in teraardebestellings.
“Families weier alternatiewe grafte en in sommige gevalle het mense self begin om grafte te grawe. Talle begrafnisse moes al uitgestel of gekanselleer word as gevolg van die water.’’
Die Stad doen ‘n beroep op die gemeenskap om geduldig te wees tot die probleem opgelos word.
Munisipaliteit waarsku teen skelms
Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die Matlosana Munisipaliteit het verbruikers in kennis gestel dat munisipale werknemers tans besig is met kredietbeheer-aksies, wat die afsny en koppel van elektrisiteit insluit.
Ntswaki Makgetha van die munisipaliteit het benadruk dat slegs munisipale werknemers hierdie dienste sal uitvoer. Geen eksterne diensverskaffer is aangestel om krag te sny nie, ‘n aangestelde kontrakteur sal wel waterbeperkings hanteer.
Markdag by Janie Schneider Skool
Janie Schneider Skool het weereens ‘n suksesvolle markdag agter die rug. Een van die hoogtepunte was Curro se marinba-orkes wat opgetree het. Verskeie motorfietsklubs het besoek, en hulle het die trapkarre, en wors vir die worsbroodjies geborg. Daar was ook verskeie stalletjies met handgemaakte items, ‘n teetuin wat leerlinge beman het, en ‘n springkasteel.
Nuwe wiele vir diereskuiling
Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die Orkney & Klerksdorp Diereskuiling het ‘n moeilike paar maande agter die rug, maar het weer rede om te glimlag nadat hulle ‘n nuwe voertuig in ‘n ruim borgskap ontvang het.
“Ons het ‘n baie moeilike tyd deurgemaak. Nadat ons bakkie in die vloede beskadig is, het ons ses lang weke sonder ‘n voertuig deurgebring. Ons kon nie op noodgevalle reageer, diere vervoer of ons daaglikse versorgingswerk doen nie. Dit was hartverskeurend,” het Diane Jacobs van die skuiling gesê.
Help met warm klere, komberse
Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Skoolmeisie van Alabama is besig om winterklere en komberse in te samel vir mense in nood met die winter wat reeds opwagting gemaak het.
Kaitline Cloete (16) is ‘n finalis in die Miss Teen Africa South Africa-kompetisie, en ’n leerling aan Hoërskool Schoonspruit.
Sy doen ‘n beroep op die gemeenskap om die liefdadigheidsprojek te ondersteun. Enige ou wintersklere is welkom, veral jasse, serpe, musse, en skoene. Hierdie items sal versprei word aan diegene in nood, veral kinders en gesinne wat swaarkry in koue omstandighede.
“Elke finalis word aangemoedig om ‘n verskil in haar gemeenskap te maak en ek is bly ek kan ‘n verskil maak,’’ het sy gesê.
Vir meer inligting of om donasies te maak, skakel haar by 083 656 5014.