Blou Bloed: koninklike spore in Suid-Afrika
Deur Daniël Lötter
Uitgegee deur Protea Boekhuis
Lesersindruk deur Salomé Kotzé
Wat my die meeste opgeval het van die boek is die lekker gemaklike skryfstyl wat vir sommige mense nogal ‘n moeilike onderwerp kan wees - nie net om te lees nie, maar om te skryf ook. Ek het gesukkel om kop te hou tussen al die markiese, tsaars, kroonprinse en koninklike hooghede en hul bloedlyne wat lees soos ‘n hoofstuk in Eksodus. Maar dit dui op die deeglikheid van hierdie skrywer om nie halfgebakte werk te lewer nie - ek sal nou beslis nie almal in volgorde onthou nie, maar vra my oor die spoor van die Napoleons in Durban of wie ‘n affair met Genl Jan Smuts gehad het, en ek sal vir jou die boek in die hand stop.
Die boek bevat ń skatkis van inligting en het waardevolle geskiedkundige waarde. Ek sê weer die navorsing is uitstekend, want verskeie bloubloediges het deur die eeue heen sterk bande met die land ontwikkel.













