Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Marina de Lange was die vriendelike persoon wat familielede ontmoet het wanneer hulle die groot stap geneem het om hul geliefde te laat opneem by die Sanpark rehabilitasiesentrum.
Sy het verlede week afgetree en vertel 36 jaar is in ‘n oogwink verby. Sy was dertig jaar oud toe sy daar begin werk het. “Dit was net die wil van die Here wat my na Sanpark geneem het.’’
As student wou Marina met kinders werk en het plekke vir haar praktiese werk as student altyd so gekies. Sy het na haar studies by die kinderhuis begin werk en moederskap en verdere studies het haar besig gehou. “Ek moes toe ook ‘n module doen oor verslawing en prakties doen. So land ek toe by Sanpark as nagraadse student en het nooit weer weggegaan nie. ‘n Nuwe lewe vir mense wat so verstrik raak in verslawing het baie gou my passie geword,” vertel sy.