20
Mon, May

Ethnic
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Hierdie week se “Rustenburg Herald raak die klits kwyt” uitgawe is baie besonders: nie net is dit ‘n baie lekker en gesonde ete nie (veral nadat ons ‘n paar weke gelede polonie in ons “Kota”-resep gehad het) maar ook omdat dit die eerste keer is wat iemand vir ons kook wat nie net die kos gemaak het nie maar ook die bakke waarin dit bedien is! Nalize Venter het onlangs terug verhuis na Rustenburg nadat sy by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) vir ‘n geruime tyd as lektor gewerk het. Daar het Nalize klasse in fynkuns aangebied en is ook tans besig om haar meestersgraad hierin te finaliseer. “Ek het oorspronklik Rustenburg verlaat omdat daar nie ‘n “studio” hier was nie. Nou het ek my eie een gestig,” vertel Nalize. Sy verwys natuurlik na die Ginger Studio in Uniestraat waar sy haar besonderse kunswerke maak. Nalize verduidelik dat, wanneer jy kos in jou eie handgemaakte keramiek bakke bedien, elke ete ‘n feesviering word! “Bedien jou muesli met Griekse jogurt, vars bessies en heuning – begin die dag met iets pragtig!”
Indien jy ook graag wil leer hoe om jou eie bakke te maak asook ander kunswerke skakel gerus vir Nalize by 084 505 9386 of epos haar by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

Bestanddele:

500g gerolde hawermout (opsioneel: glutenvry)
125ml sonneblomsaad
125ml vlassade (lynsaad)
125ml pampoensaad
125ml quinoa
100g amandels, rou
100g okkerneute
100g kasjoeneute
125ml palmsuiker
15ml kaneel
250ml water
250g bosbessies/rosyntjies

Metode:

Kombineer die hawermout, sade, neute, palmsuiker en kaneel in ‘n groot bak. Meng deeglik. Voeg die water by en roer goed tot deeglik gemeng.
Laat staan vir 30 minute. Smeer die mengsel in ‘n enkele laag binne ‘n groot bakplaat. Bak in ‘n voorverhitte oond teen 170°C vir 30 tot 40 minute.
Haal die bak uit die oond en meng die bosbessies of rosyntjies by.
Laat afkoel en stoor in ‘n lugdigte houer vir tot een maand. Lewer tussen 14 en 16 porsies.