As jy onder jou vriende as “Jacques Braai” en “Jacques Spice” bekend staan, dan is dit inderdaad ‘n voorreg om vir een van Jacques Erasmus, eienaar van Platteland Deli, se etes aan te sit. Nadat hy drie agtereenvolgende jare as Rustenburg se Piekfyn-Potjieskoskoning gekroon is by Bergsig Akademie se eertydse jaarlikse potjiekoskompetisie, is dié dan ook die ideale gereg om met Rustenburg Herald se lesers te deel. Jacques is ‘n man wat jag, sy eie spesery maak, vleis verwerk, biltong en droëwors maak en met vier kinders in die huis, is lekker eet en lekker kuier ‘n tradisie in die Erasmus-gesin. Jacques se weergawe van ‘n koedoepotjie is ‘n ete van epidermiese proporsies – soos ons in die volksmond sê. Bowenal, het Jacques ook nie geskroom om van sy geheime uit te laat wat sy potjies só besonders maak nie – vars speserye, ‘n bietjie kerriepoeier, vleis wat vooraf op die rooster gebraai word, ‘n geurige rooiwyn (na smaak) en suurlemoensap om die vleis sag te maak.
Wanneer jy jou mond aan Jacques se potjiekos slaan, weet jy onmiddellik – hy MAG maar potjie maak! Volg die resep en sien of jy by hom kan kers opsteek.