20
Mon, May

Venison meat
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In Suid-Afrika en sy talryke tradisies is dit nou maar eenmaal so dat ‘n wildvleisie vir die pot geen onbekende gesig op ons etenstafels is nie.
As jy boonop een van talle jaggeesdrigtiges was wat die afgelope winter in die jagveld kon deuring, is jy waarskynlik een van talle mense wat met bykans ‘n hele resepteboek met wildvleisresepte kan spog.
Daar is allerlei maniere en metodes wat ‘n mens kan gebruik om die “wild” uit jou bok te haal en ‘n absoluut heerlike liplekkergereg te verseker.

Die wildvleisresep wat ons vandeesweek vir ons lesers opdis, kom van me Reinette Smith, ‘n dame wat goed met die plaaslewe vertroud is en jou dadelik kan sê hoe jy ‘n beskeie stukkie wildvleis in die pot kan voorberei.
Jy doen dit so:

Wildsvleisresep

Bestanddele:

1 kg wildsvleis
1 ¼ koppies bruin asyn
250 g varkvet
Sout en peper
Worchestershire-sous

Metode:

Laat lê jou wildsvleisie oornag in ‘n mengsel van water en nagenoeg een koppie bruin asyn. Was die volgende dag die vleis mooi skoon af.
Plaas dan die vleis, die varkvet wat in blokkies gesny is, 15 tot 20 naeltjies, ‘n kwartkoppie bruin asyn, 4 eetlepels Worchestershire-sous en sout en peper na smaak in jou stoompot en stoomkook vir ongeveer 40 minute.

Na 40 minute in die stoompot haal jy die wildvleis uit, plaas in ‘n gewone pot of kastrol en laat lekker saggies prut terwyl jy dit gereeld goed roer.
Die idée is dat die vleis behoorlik van die bene afval. Verwyder nou alle stukkies been en bedien die fyn- en saggekookte wildvleis met enigiets van rys, stampmielies of koring as jy wil.

Maak seker dat jy ‘n klein skeppie of twee vleis vir die volgende oggend oorlaat – dit is al te heerlik op ‘n stukkie roosterbrood saam met die oggendkoffie