20
Mon, May

Venison meat
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Oor die afgelope klompie weke reeds kook Rustenburg Herald se kookspannetjie elke week wild - ons bedoel - ons maak kos met wildsvleis natuurlik... In hierdie paar wekies het ons met bykans ontnugtering net weer eens besef dat wildsvleis regtig heerlike maaltye is wanneer dit reg voorberei en aangebied word - boonop is dit uiters gesond want dit bevat veel minder vet as "gewone" vleis en as jy 'n goeie verstandhouding met jou slagter het, gaan jy ook baie minder vir jou happie wildvleis betaal.

Maar die "lekker" kan nie oorbeklemtoon word nie. Daar is relatief min geregte so smaaklik soos regte, egte wildspastei en as jy al 'n paar geheimpies met jou speserye en sousies ontdek het, is daar letterlik niks wat jou kan verhoed om 'n absolute meesterstuk voor te sit nie.

Ons het verlede week by die eerste ses finaliste van die 2015 finaliste in die Mev Rustenburg-kompetisie aangesit en lekker gesmul. Vandeesweek is dit die beurt van die tweede groepie finaliste - en ons was gelukkig om nie teenwoordig te wees toe die ses dames sake moes uitbaklei om te besluit wie se tradisionele wildsresep vandeesweek opgedien gaan word nie. Nee, ons speel sommer - daar was darem eenstemmigheid onder die dames toe daar besluit is dat die resep van Rina Olwage se ouma vir hierdie uitgawe die kersie op die spreekwoordelike koek gaan wees.

So, meneer, mevrou en kroos - skuif nader, trek die voorskote aan en maak die kas met die bestanddele oop. Vandeesweek eet ons "Ouma Ollie se Wildsvleispastei".

Terloops - soos uit die foto's duidelik is, was daar 'n lekker goeie bottel rooiwyn byderhand en dié klompie finaliste het behoorlik gebak en gebrou. Die groepie op die foto's is Elizabeth Motsi - van die Rustenburgse Munisipaliteit, Mmakwena Mothoagae, Lisa Rossouw, Nanette Robinson, Portia Baloyi en Rina Olwage.

Ouma Ollie se wildspastei
Bestanddele:  
Ongeveer 3 kg se wildsvleis
½ kg varkspek
2 vars knoffelhuisies
3 heel kruienaeltjies
1 groot gekapte ui
1 eetlp wonderpeper
1 eetlp sout
½ koppie asyn
½ koppie Worcestersous
2-3 Aartappels geskil en in blokkies gesny

Metode:
Kook die vleis in 'n bietje water met 'n klein bietjie sout totdat die vleis van die bene afval. 'n Stoompot werk die beste en is die vinnigste. Dreineer die vleis en hou die sous eenkant tot later. Kap die uie, spek en knoffel fyn en braai saam in 'n pan. Gooi wonderpeper, sout , naeltjies, asyn en Worcestersous asook die aartappelblokkies by en kook stadig totdat die aartappels sag is. Neem die gedreineerde sous en maak dit effens dik met Maizena en gooi by die mengsel en kook nog 'n bietjie langer. Gooi nou die res van die bestanddele by die vleis en meng alles saam en kook verder op lae hitte totdat al die geure goed deurgekook het. Skep uit in 'n lekker groot bak.

Maak jou deeg so:
1 koppie meel
10 ml ( 2 eetlp) bakpoeier
½ tlp sout
1/5 koppie fyngekapte pietersielie
½ koppie botter
¾ koppie melk

Metode:
Meng alles tot 'n maklik-hanteerbare (loperige) "koekbeslag". Gooi dan die degie bo-oor vlies en bak in oond op 180 °C tot deeg mooi goudbruin is. Opsioneel: Sny 'n lekker groot ui in ringe en pak bo-op die deeg voordat dit in die oond gedruk word.