18
Mon, Nov

Venison meat
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

"Tandartse", sê die Amerikaanse kommediant, Bill Cosby, "is mense wat vir jou vertel om nie met kort, skerp metaalagtige voorwerpe in jou tande te krap nie. Maar sit jy in die tandarts se stoel, is die eerste ding wat hy gryp, 'n ysterhaak!" Nee, moenie glo nie - gelukkig is dit darem nie heeltemal die waarheid nie - tandartse kan in die middel van die nag daardie "vriend" wees wat jy heimlik wens jy het naby aan jou gehad - enigiemand wat al ooit in die nag of oor 'n langnaweek met tandpyn gesukkel het, sal hiervan kan getuig.

In ons jongste aflewering van Rustenburg Herald se "Raak die 'klits' kwyt" (kook) - het ons die voorreg gehad om saam met sekerlik Rustenburg se bekendste tandarts- en kunstenaarsegpaar, drr Hennie en Mollie de Bruin (Moolman) 'n vuurtjie aan te pak en 'n goed-voorbereide "gekultiveerde" koedoerugstring (fillet) te braai.

Hennie is veral 'n man wat sy jagveld en wildsvleis ken. "Nee, jy gaan skiet nie sommer gou 'n "bok" en begin dan om die vuurtjie aan te blaas nie. Só mors 'n mens net met goeie vleis. Die kuns van wildsvleis is om dit behoorlik voor te berei, dit met verkieslik natuurlik geure/smake soos mosterd, room en olyfolie te "behandel" en dan vir so minstens twee tot drie dae te laat lê voordat jy na die dosie vuurhoutjies begin soek.

Nadat hulle lekker dik snitte (medalions soos die Engelse sê) gehalte-rugstring vir die braai opsy gesit het, het Hennie en Mollie presies hierdie resep gebruik en die sousies deur die loop van 'n dag of twee telkens met die hand in die vleis ingevryf. 'n Paar groterige uieringe by jou vleis en as jy wil - 'n titseltjie knoffel, rond die prentjie af.

En dan baie belangrik - 'n mens gooi nie sommer goeie wildsvleis op 'n oop rooster en braai dit kurkdroog nie - selfs al het jy dit deeglik gemarineer. Nee, wild braai jy verkieslik in 'n lekker groot, warm pot met 'n deksel in 'n olyfoliebasis. Wanneer die vleis feitlik gereed is, skep jy dit uit, plaas in 'n tweede pot en flambeer vir 'n paar oomblikke. Meng dan 'n bietjie room saam met die oorspronklike uieringe in die olyfoliesous en skep ruimskoots oor die vleis wanneer jy op die punt is om op te dien. Waak daarteen om jou fillette oorgaar te maak - dit moet vir die gemiddelde ou nog taamlik rooierig lyk wanneer jy dit in jou tweede pot plaas om vinnig te flambeer.

Wildvleis het 'n bekoring van sy eie en die geheim is om nie die wild met speserye en vreemde "kulture" te probeer makmaak nie. Berei dit liefs goed voor deur deur dit vir baie naby aan drie dae in 'n natuurlike sous soos room, knoffel en die olyfolie waarvan ons hier praat, te laat "ryp" word.

Saam met die allersagste koedoerugstring het die De Bruins 'n heerlike aartappelgereg en nog 'n eie skepping - 'n pitabroodjie gevul met kaas en sampioene (basies twee liggevulde pizzas wat omgekeer bo-op mekaar lê) en in 'n toeknyprooster op die kole "gaargemaak" is, voorgesit. 'n Ligte Griekse slaai met mooi groot en rondgesnyde lemoenskyfies sorg vir daardie tikkie pikantheid wat jy net so nou en dan met 'n slukkie goeie, droë rooiwyn komplimenteer.

Eerskomende Donderdag vier ons Erfenisdag - sogenaamde "braaidag" in die eg Suid-Afrikaanse tradisie. As jy en die gesin beplan om ook 'n vuurtjie aan te slaan en nog nie finaal oor jou vleis besluit het nie, moet jy dalk 'n groot aantekening van hierdie eenvoudige maar heerlike resep en metode maak. Onthou - dit werk ook uitstekend met biefstuk en beesfillet as jy dalk nie 'n goeie winter in die jagveld gehad het nie, of as jou jagtersvriende van jou vergeet het...


Dankie Mollie en Hennie - julle is voorwaar kunstenaars - in meer as een opsig... Bon appetite!