21
Sat, Dec

Venison meat
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

As jy onder jou vriende as “Jacques Braai” en “Jacques Spice” bekend staan, dan is dit inderdaad ‘n voorreg om vir een van Jacques Erasmus, eienaar van Platteland Deli, se etes aan te sit. Nadat hy drie agtereenvolgende jare as Rustenburg se Piekfyn-Potjieskoskoning gekroon is by Bergsig Akademie se eertydse jaarlikse potjiekoskompetisie, is dié dan ook die ideale gereg om met Rustenburg Herald se lesers te deel. Jacques is ‘n man wat jag, sy eie spesery maak, vleis verwerk, biltong en droëwors maak en met vier kinders in die huis, is lekker eet en lekker kuier ‘n tradisie in die Erasmus-gesin. Jacques se weergawe van ‘n koedoepotjie is ‘n ete van epidermiese proporsies – soos ons in die volksmond sê. Bowenal, het Jacques ook nie geskroom om van sy geheime uit te laat wat sy potjies só besonders maak nie – vars speserye, ‘n bietjie kerriepoeier, vleis wat vooraf op die rooster gebraai word, ‘n geurige rooiwyn (na smaak) en suurlemoensap om die vleis sag te maak. 
Wanneer jy jou mond aan Jacques se potjiekos slaan, weet jy onmiddellik – hy MAG maar potjie maak! Volg die resep en sien of jy by hom kan kers opsteek. 

Bestanddele:

2.5kg Wildskenkels
3 Groot rooi uie
‘n Halwe groen, rooi en geel rissie
1 Pak sampioene 
1 Pak geel pampoentjies
1 Pak groen pampoentjies
1 Pak klein wortels
1kg Klein knoffel-aartappels
2 Pakkies klein mielies 
1 Pak botterpampoentjies
Halwe pak boontjies 
2 eetlepels Rajah medium-sterkte kerrie
30ml Maggie soya sous 
3 Blokkies beesvleisaftreksel (beef stock) 
Sout en peper-mengsel
2 Eetlepels gekneusde knoffel en gemmer 
Olyfolie
120ml Jimmy sous
800ml Vars room
3 Eetlepels Maizena
Vars, opgekapte speserye – tiemie, koljander, roosmaryn en pietersielie 
80g Bosveld Braai Spice (Hyper Slaghuis se braaispesery, verkrygbaar in 500g eenhede)
30g Hyper BBQ speserye
Ekstra: Bruinrys of koring

Metode:

Braai skenkels eers op rooster op warm kole vir ongeveer tien minute aan ‘n kant - met sout en pepper-mengsel op. Gooi rooi uie, peper, knoffel en gemmer, kerrie en een blokkie beesaftreksel saam met 250ml olyfolie in pot en laat dit karameliseer. Skep 2/3 van die smoor uit in ‘n bak. Gooi vleis saam met 1/3 van die uiemengsel in die pot en roer vir ongeveer tien minute in warm potjie. Gooi kookwater in potjie (genoeg on vleis te dek), sit die ander twee blokkies beesaftreksel by en kook vir +/- twee ure. Gooi Bosveld Braai Spice by. Voeg aartappels, wortels en mielies in, nadat jy ongeveer 500ml water uit die potjie afgeskep het. Gooi 1/3 van uie mengsel bo-op dit, saam met Hyper BBQ-speserye en prut vir 20 minute. 
Voeg res van die groente, Hyper BBQ speserye, 800ml room en Jimmy-sous by en prut vir 15 minute. Laastens, voeg die Maizena (met n halwe koppie water gemeng) by om sous dik te maak. 
Rys of koring (As die stysel klaar afgespoel is, dan sit Jacques so drie eetlepels Butro-smeer by). Geniet jou wildspotjie!