Anita Pieterse en Wilma Barrett is al meer as ‘n dekande lank vriendinne… So nou en dan vat hule die langpad kombuis toe om weg te loop van hul gades – aangesien altwee dames met hul besigheidsvennotte getroud is – en saam te bak en te brou. Die “secret ingredient” van hul kooksessie is baie lag en so ‘n klein bietjie wyn – net genoeg om die kos gaar te maak en die dames aan die gesels te hou.
Anita en haar man, Adriaan, verlaat binnekort die Platinastad vir die Kaapse seelug en het toe ‘n laaste kooksessie en kuier gereël om te groet. Rustenburg Herald is genooi om saam “koebaai” te sê en dié dames groet toe mekaar deur ‘n ou resep (met ‘n nuwe kinkel) aanmekaar te slaan.
Kuier gerus saam vir die “laaste lag, kook en vreugde” en maak soos dié vriendinne -en nooi sommer die hele gesin hierdie Desembervakansie om saam te kook in die kombuis!
Bestanddele:
2 kg wildsvleis (ons kokke gebruik springbok) in blokkies gesny
250 g spek (varkvleis)
1 x medium ui - gekap
20 ml olyfolie
Brandrissie in vlokkies – na smaak
Knoffel – volgens smaak
Naeltjies – volgens smaak
Kerriepoeier – na smaak
Paprika – na smaak
‘n Bietjie koekmeel
Lourierblare
2 eetlepels gemaalde koljander
2 koppies beesvleisaftreksel
1 x Koppie goeie rooiwyn
Skilferskorsdeeg (blaarvorm)
Sout en peper - na smaak
½ teelepel Marmite
1 eier met bietjie melk gemeng om rou deeg te smeer
Vooraf: Sny die springbokvleis in stukkies en marineer vir twee dae in Worchestersous. Verwyder enige bene - dan is dit gereed vir die volgende fase.
• Plaas rou vleis in ‘n stoompot om lekker sag te kook (ongeveer twee ure)
• Verhit die olyfolie in ‘n gietysterpot en braai die uie, spek en knoffel tot bruin
• Voeg nou die lourierblare, speserye, aftreksel, wyn, sout en peper by die vleis wat sag gekook is
• Kook alles saam vir 20 minute
• Verhit oond tot 180°C
• Smeer ‘n mediumgrootte pan met botter
• Rol deeg uit
• Lê ‘n onderlaag deeg in die pan en skep pasteivulsel tot gelyk, in die pan.
• Klits nou ‘n halfkoppie melk met een eier en smeer met ‘n kwassie om die rand van die pan op die blaardeeg
• Sit ‘n bolaag korsdeeg bo-op sodat die pan bedek is
• Druk met ‘n vurk al om die kante sodat die blaardeeg teen mekaar kan heg. Smeer die hele bolaag met die eiermengsel
• Bak nou vir 25 min of tot gaar en mooi goudbruin - en voila!