20
Mon, May

Venison meat
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Nouja, vir seker die meeste gewone Suid-Afrikaners beteken die einde van die winter dat ‘n ou maar die jaggeweer ‘n lagie of twee lekker dik olie smeer en tot aanstaande winter in die kluis wegbêre. Dit is nou die mense wat nie so gelukkig is om ‘n oupa, ‘n oom of ‘n pa te hê wat met ‘n toegespande wildplaas in die verre ou Noord-Transvaal (Limpopo) of dalk die Vrystaat kan spog nie en vir wie ‘n “wildsboudjie”as ons dit so kan noem na al die jare nog steeds ‘n groot bederf en verrassing gebly het.

Vir die gewone man sal ‘n lekker sappige wildsvleisie oor die vuur of in ma se gunstelingpastei ongetwyfeld herinneringe oor die jongste jaguitstappie in die bosveld uit die pot/oond tower. Maar soms is selfs die wat van ons nie eers iemand met ‘n oop plaas in die familie- of vriendekring het nie, tog ook gelukkig. Ja, ons lesers wat verlede week se “kook” kan onthou, sal weet dat ons hierdie week vir ‘n spesiale bederfie by die tafel van Piet en Martie Els en die “kinders” Carl en Giselle Nicholson van Biki-bini-bos-gasteplaas aansit en met ‘n “bek-wat-water” (sou Pieter Pieterse ongetwyfeld gesê het) toekyk hoe Carl vir ons ‘n wildsfillet in ‘n pikante sousie aanslaan.

By Biki-bini-bos is die wild taamlik volop en al die ge”wild”ste boksoorte word gereeld gesien. Baie spesiaal is ‘n lapa-uitkykpunt vanwaar ‘n mens jou oor etenstyd kan verlustig in dosyne “mak” koedoes en waterbokke wat vroegoggend en laatmiddag ook ‘n lekker eetdingetjie kom soek waarmee Piet hulle bederf. Ons is so naby aan die pragtige diere dat ons versigtig moet kou en nie die lippe na ‘n slukkie van Carl se wyn moet klap nie, anders gaan ons die bokke verwilder. (Ja, natuurlik het ons watertand gesmul…)

Bestandele:
Rugstring of fillet, so 2 kg vleis oornag gemarineer in karringmelk.  
Vars kruie, lourierblaar, roosmaryn, tiemie, gemaalde swartpeper en koljander.
Uie;
500g sampioene fyn gesny;
500g gerookte spek, fyn gesny;
Knoffel;
Klein aartappeltjies – klaar gekook;
Room;
Olyfolie/olie;
Rooiwyn – 3 bottels;
Beesaftreksel – 500ml;

Metode:
Braai die vleis liggies in ‘n swart pot op die vuur, voeg na ‘n paar minute die kruie, uie en knoffel by en braai tot die vleis bruin geseël is. Haal af van direkte hitte, maar hou ‘n paar kole onder die pot om dit net aan die prut te hou. Voeg die rooiwyn na smaak by – die res van die 3 bottels drink die kok natuurlik (as die pot klaar is…) Voeg ook die aftreksel by.

In ‘n ander pan braai jy die spek tot gaar, voeg sampioene by en braai tot dit sag is. Gooi die mengsel en die aartappels in die eerste pot. Plaas die pot terug op ‘n warmer vuur/kole en reduseer tot min of meer die helfte van die oorspronklike vog. Verwyder van die hitte, voeg room by na smaak en hou die cholesterolvlakke dop. Geur met sout en peper. Sny die vleis in dun skywe, plaas terug in die pot en geniet terwyl jy dit saggies eenkant naby die kole hou.

Varsgebakte brood en natuurlik Martie se botterskorsies rond die prentjie af en met respekte aan Martie – ja, die fillet was amper so sag soos die botterskorsies – bosveldkos op sy beste!