20
Mon, May

Venison meat
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ons reeks oor "wildkosresepte" waarmee ons Rustenburgers in hierdie winterseisoen warm probeer hou, staan nou tweede week se kant toe. Vandeesweek - sommer so met die afskopslag - begin ons op 'n hoë noot! Charlotte Grobler, haar dogter Ilze Grobler en Charlotte se tweelingsus Louise Nell staan op die vooraand om 'n splinternuwe restaurant te begin en maak vir ons 'n koedoenek-wildspastei as 'n voorsmakie om vir ons te wys wat mense binne enkele weke onder meer by "Proviant Restaurant" kan verwag. Tradisionele boerekos gaan ook hoog bo-aan die spyskaart by Proviant verskyn - so wees op die uitkyk vir advertensies en meer inligting wat binnekort in Rustenburg Herald gaan verskyn.
Die driemanskap maak hierdie baie lekker wildspastei soos soos volg:

Bestanddele:
Marinade
1½ l Coca-Cola
5 lourierblare

Pastei: 
150 g botter
30 ml sonneblomolie
2 kg koedoenek, opgesny (rou, met been)
1 kg vetbrisket
250 g spek, gekap
4 medium uie, grofgekap
5 ml knoffel, fyngekap
750 ml droë rooiwyn
1 l hoenderaftreksel (2 blokkies)
sout en varsgemaalde swartpeper
6 heel naeltjies
4 ml fyn koljander
4 ml fyn neutmuskaat
10 ml Worchestershire sous
10 ml wit asyn

Sous:
325 ml droë rooiwyn
25 g botter
10 ml Maizena
250 ml room
5 ml Worchestershire sous
500 ml water

Beslag:
slapdeeg x 2
125 ml sonneblomolie
125 ml melk
200 ml koekmeel
10 ml bakpoeier
1 eier geklits in 'n bietjie water

Metode:

Marinade:
Plaas die rou vleis in 'n skottel en gooi die Coca-Cola oor die vleis. Voeg die lourierblare by die marinade, marineer die vleis vir ongeveer 2 tot 3 uur en draai greeld. Hou die gedreineerde marinade eenkant. Verhit die oond tot 180°C.

Pastei:
Verbruin die vleis goed in 'n swartboomkastrol tot goed gebraai in die botter en olie. Haal uit die pot uit en plaas eenkant. Braai die spek tot goudbruin in dieselfde vleispot. Soteer die uie in die vleiskastrol tort deurskynend. Voeg die knoffel by die gesoteerde uie asook die gebraaide spek en laat eenkant. Plaas die gemarinerde vleis in 'n drukkoker saam met die rooiwyn, honederaftreksel, en 500 ml van die Coke-marinade. Geur met sout en peer na smaak en voeg die naeltjies, gedroogte koljande, neutmuskaat, Worchestershire sous en asyn by. Die oorskiet-marinade kan nou weggegooi word.
Stoom vir ongeveer 2 uur tot sag. Maak seker dat die vleis nie aanbrand nie. Kyk elke 20 minute of die vloeistof genoeg is, indien nie, voeg water by. Die vleis moet maklik van die been af val. Wanneer die vleis sag is, verwyder die lourierblare en ontbeen. Maak die vleis fyn, Meng goed met die uie en spekmengsel en skep terug in die swartboomkastol. Voeg sous by die vleismengsel. Kook vir nog sowat 30 minute op lae hitte tot die vleis baie sag is met 'n bietjie water. Skep die mengsel in 'n gesmeerde oondvaste bak en maak gelyk.

Sous:
Gooi die rooiwyn in 'n aparte kastrol en kook tot met die helfte verminder. Voeg dan die oorblywende bestanddele by behalwe die Maizena. In 'n glasie, maak die Maizena aan met 'n bietjie water en voeg by die sous om te verdik. Kook vir sowat 1 minuut.

Slapdeeg:
Meng al die bestanddele tot 'n slapdeeg vorm, gooi oor die vleismengsel en bak in 'n oond vir ongeveer 20 minute op 180°C en goudbruin.

Die pastei is aam met 'n geroosterde botterskorsieslaai wat ook warm bedien word, voorgesit. NB - die oorblywende rooiwyn kan tussenin geniet word - "ek het hierdie wonderlike resep by my goeie vriendin - Serah Henning gekry", vertel Charlotte.