20
Mon, May

Venison meat
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ai, wat is nou lekkerder as die bosveld se koue wintersaande om die braaivleisvuur met laataandstories en plek-plek skaterlag wat so tonekrul-lekker is dat 'n mens lank na inkruiptyd nog met 'n glimlag op jou koue wange wakker lê? Ja, die jagveld en mense se gelatenheid om die braaivuur het altyd sy bekoring - waar 'n mens ook al so gelukkig is om 'n jagvakansie te geniet... Maar vir baie van ons is dit nie so eenvoudig om die roer, die warmgoed, stewels en die bakkie te pak en jagplaas toe weg te breek nie. Deesdae is die huishoudelike begroting 'n faktor waarmee daar rekening gehou moet word en daarom dat diegene van ons met volbloed-jagters in die familie maar al te dankbaar is wanneer neef, oom of tante met 'n stewige pakkie wildsvleis (of twee) teen die voordeur aanklop.

Nouja, 'n pakkie vleis op sy tyd het ook sy voordele en vir mense wat nie te handig met die slagtersmes is nie, is iets soos wildswors stop dalk die naaste wat hulle ooit aan die jagplaasondervinding sal kom...

Ons weet daar is baie gelukkige mense wat hierdie winter die jagveld gaan opsoek - ons sal nog vir die volgende 'n maand of twee oor heerlike wildsresepte gesels. Vir die ander wat dalk darem nog 'n stukkie wild in die vrieskas het, spog ons vandeesweek met 'n al te lekker wild-boereworsresep waarmee jy jou vriendekring by die volgende braai kan beïndruk.
Madelein Cloete van Rustenburg se Professional Cooking Academy en haar regterhand, Lizelle Hattingh van Jakkalsdrift-slaghuis ('n privaatslaghuis wat wildvleis en karkasse vir letterlik dosyne jagters verwerk), het vir ons hierdie maklike en heerlike worsresep saamgestel.

Wild Boerewors:

Bestanddele:
3 kg wildsvleis (blouwildebees/koedoe)
1 kg brisketvet
1 kg varkvet (1 cm-blokkies gesny)
60 ml sout
7.5 ml gemaalde naeltjies
75 ml heel koljander
5 ml nutmeg
2.5 ml gemmer
30 ml bruin asyn
30 ml Worchester-sous
30 ml fyn gemaalde swartpeper
5 ml gedroogte tiemie
500 ml water (opsioneel)

Metode:
Sny die wildsvleis in 5cm-blokkies. Sny brisket-vet in 3 cm-blokke. Sny varkvet in 0,05 cm-blokkies. Panbraai die koljander vir 5 min en maak dit fyn. Al die speserye moet behoorlik fyngemaal wees - (peper, naeltjies en tiemie). Meng die vleis en brisket en maal dit een keer. Voeg nou die varkvet asook die res van die bestanddele by en meng goed.

Gebruik enige derm vir boerewors en begin dit stop, probeer om dit nie te styf te stop nie. Hou verkoel vir nagenoeg 12 ure voordat dit verpak word sodat die vleis en speserye goed kan meng. Hierdie wilds-boerewors gaan soos die meeste tipes wors die beste smaak wanneer dit op 'n oop vuur gebraai word. Onthou dat jy jou kole nie te warm maak nie - anders sal die derm bars en skeur en sal baie van die smaaklike vleissous verlore gaan.

Aanstaande week wys ons vir jou hoe om 'n heerlike vleis-"pattie" te maak wat jy baie lekker op happies soos hamburgers of soortgelyk kan gebruik. Onthou - 'n mens hoef nie noodwendig 'n stoppelbaard en 'n breker-voorkoms te hê om 'n stukkie wildvleis te geniet nie...