20
Mon, May

Festive Meals
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Baie van ons se herinneringe aan kersfees is in die kos wat op die tafel was, geanker. My kersfees-onthou is van snikhete karoodae met yskoue waatlemoen, regte-egte tuisgemaakte gemmerbier, koue skaapboudsnye en gestolde wortelslaai. Buite op die stoep was tafels mooi gedek en op die gras het ons kinders deur die spreier gehardloop en mekaar met waatlemoenskille gesmeer. Daar was baie gelag en gesels en gespeel en die geskenke onder die boom was bykans ‘n bysaak – die kuier saam met ooms en tannies en broers en susters was die hoofdoel van Desember. Deesdae is dinge nie meer so ongekompliseerd nie. Daar is soveel vereistes en verwagtinge dat die feesgety ‘n amperse mynveld geword het. Maar met dié week se kook deur Hedgehog’s Nest se Sjef Pieter Germishuys bring ons ‘n tikkie van kersfees soos dit móét wees terug – met lekker kos wat saamwees ‘n fees sal maak. In die meegaande video verduidelik Sjef Pieter hoe al die geregte wat op die bladsy vertoon word, voorberei word. Ons deel egter hier die resep vir die heerlike ‘ Coronation’-hoender, soos gemaak deur Hedgehog’s Nest Culinary Institute eerstejaarstudent, Marnus van Dyk.

Bestanddele:

6 x hoenderborsies, gekook saam met pietersielie, tiemie, loerierblare, peperkorrels en wortels
1 groot ui
35 ml kerriepoeier
Knippie koljander
Knippie mosterd
Knippie borrie
Tamatiepasta
50 ml Mango chutney
75 ml rooiwyn
75 ml water
20 ml suurlemoensap
125 ml mayonnaise
50 ml appelkoospuree
125 ml ongegeurde jogurt
1 eetl pitlose rosyntjies
2 eetl gesnipperde droë appelkose

Metode:

Kook die hoenderborsies saam met die pietersielie, tiemie, loerierblare, peperkorrels en wortels tot gaar. Wees versigtig om dit nie té gaar te maak nie. Laat dit in die vloeistof afkoel voor jy dit vlok.
Sny ui in blokkies en braai baie liggies in botter. Roer die kerriepoeier in en daarna die res van die speserye, tamatiepuree, rooiwyn en water. Bring tot kookpunt en geur met sout, peper en suurlemoensap. Laat prut vir 10 minute. Wanneer afgekoel, roer die mayonnaise, appelkoospuree, mango churney en ongegeurde jogurt in.
Bedien koud en garneer na keuse.