20
Mon, May

Pasta
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In verlede week se uitgawe van Raak die klits kwyt het ons ietwat uitgebrei oor geregte soos Pizza wat tipies Italiaans is en in slegs ‘n paar jaar – veral na die Italiaanse diaspora tot ‘n Amerikaanse en daarna, internasionale gunstelinggereg ontwikkel het. Daar is min mense wat vandag nie van pizza hou nie en elke tweede persoon het boonop sy eie weergawe ontwikkel. 
Nog ‘n Italiaanse gereg wat wêreldwyd gewild en suksesvol aangebied word, is pasta. Daar is letterlik nie ‘n einde aan die verskeidenheid pastas wat elke dag regoor die wêreld voorgesit word nie en dit is seker die gereg wat by uitstek vir sy gesondheidsvoordele bekend geword het. Hoewel die winter nou seker amptelik iets van die verlede is, is daar geen rede hoekom pasta nie regdeur die jaar gemaak kan word nie. Wie gee in elk geval om as jy ‘n pasta-mens is? 
Vandeesweek sit ons by Chantal Oosthuizen en Chere-lee Beukes aan vir ‘n lekker romerige hoender & spinasiepasta wat die monde behoorlik laat water. Jy maak dit soos volg:

Bestanddele
550 – 600g hoenderfillette; 
15 – 20ml olyfolie;
40ml Robertson’s hoenderspeserye;
5ml origanum;
5ml tiemie;

Metode
Sny hoender in kleinerige blokkies. Braai in ‘n warm pan in die olie tot dit lekker geseël is. Voeg hoenderpeserye asook ander speserye by. Verlaag die hitte sodat dit stadig gaar word. ‘n Bietjie water kan bygevoeg word sodat dit nie heeltmeal droog kook nie.

Roomspinasie
Bestanddele
1 medium ui;
10ml olyfolie;
1 pakkie gewaste vars spinasie;
250ml room;
2 eetlepels Maizena;
Knippie sout;
Growwe swartpeper;

Metode
Braai uie tot sag in olyfolie. Gooi ‘n klein bietjie water in die pot sodat die bodem bedek is. Voeg spinasie en knippie sout by en stoom spinasie tot sag oor medium hitte. Nie te veel sout nie want die hoender het reeds sout by. Voet room by. Laat oor lae hitte prut. Voeg Maizena by, meng goed sodat die spinasie lekker kan verdik. Geur met growwe peper.

Pasta
Gebruik 250g Penne Rigate pasta. Elkeen maak mos maar sy pasta op sy eie manier. Spoel voor of na die tyd – net solank dit sag en gaar is.

Opdiening
Pak pasta onder ‘n lagie. Skep roomspinasie bo-oor die pasta. Plaas hoenderfillette bo-op die roomspinasie. Dit kan ook voor die tye gemeng word. Geur met growwe swartpeper en Parmesaankaas net voor jy bedien. Bon appétit!