08
Tue, Oct

Pasta
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Mag ons maar in hierdie aflewering van “Raak die ‘klits’ kwyt” vir die derde keer verwys na “Boeregeregte”, tradisionele happies en lekkernye wat in Suid-Afrika – veral in die platteland – immergewilde gunstelinge geword het en waarsonder ‘n mens se resepteboek en kookkuns ongelukkig net nie volledig is nie. Ons moet toegee dat geregte soos bobotie en lasagne nie volbloed-Suid-Afrikaanse geregte is nie en inderwaarheid ‘n internasionale oorsprong het. Min mense sal egter nie saamstem dat Suid-Afrikaners dit oor dekades heen, indien nie eeue nie, reggekry het om ons eie kleur en karakter aan hierdie disse te verleen en dit as’t “ons eie” gemaak het. 
Van die opwindendste dinge van bobotie en lasagne is sekerlik die ongelooflike variasie-moontlikhede wat dit ‘n mens toelaat. Daar is waarskynlik nie twee bobotie- of lasagne-resepte wat dieselfde is nie. Elkeen maak dié dis min of meer maar soos hy/sy voel dit gedoen moet word en soos die res van die gesin dit verkies. Natuurlik speel die dikte van ‘n mens se beursie ook ‘n rol in die manier waarop jy verkies om jou lasagne te maak. 
Nietemin – twee goeie vriendinne, Samantha Mendes en Michelle Ferreira span vandeesweek vir ons in die kombuis saam en wys vir ons hoe hulle daarvan hou om lasagne te maak. Hierdie resep is vreeslik maklik, eenvoudig en ekonomies en dit is ongetwyfeld ‘n goeie idée om dit sommer dadelik uit te knip en teen die yskas te plak – die van ons wat eergister (Dinsdag, 1 Maart) vroeg opgestaan het, het seker gevoel dat die dae besig is om vinnig koeler te word. Ja, ons kan ons maar vir ‘n koue winter regmaak, sê die mense wat dink hulle weet:

Samantha en Michelle maak hulle lasagne so:

Bestanddele:
1 pak spinasie linguine pasta; 
1 pakkie pastasous;
4 tunapakkies;
1 houertjie 250ml volroom;
1 houertjie 250ml maaskaas;
½ blok Cheddar kaas;
½ blok Mozzarella kaas;

Metode;
Meng jou pastasous en tuna saam en kook vir omtrent 30 minute. Pak opeenvolgende lagies pasta en sous opmekaar in ‘n lekker groterige bak en bak dan in die oond vir nagenoeg 20 minute teen 180° C. Onthou - ‘n vars groenslaai en ‘n lekker tuisgebakte (of gekoopte) broodjie is al te heerlik saam met ‘n skeppie lasagne. Vir daardie aande wanneer ‘n mens egter glad nie so honger is nie, is dit hoegenaamd nie eens nodig om ietsie ekstra saam te bedien nie. Gaan sit gerus voor die TV en geniet ‘n heerlike happie met jou gunstelingprogram of rolprent . Dankie julle twee…