20
Mon, May

Platters
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

“Nou wie se vingers eet die mense dan?” het ‘n seuntjie sy ma gevra toe hy hoor dat daar ‘n vingerete voorberei moet word. Ag ja, die kinderlike onskuld van ons kroos darem… Maar van vingers gepraat – wie van ons is nie gek oor ‘n heerlike vingerete nie – veral as dit aantreklik, geurig en smaaklik en in ‘n taamlike groot verskeidenheid aangebied word nie? Ons is die afgelope klompie weke só deur Rustenburg se bekende “koekietannie” lusgemaak vir “uiteet” dat ons dit nie langer kon hou nie. Rustenburg Herald se jongste “Raak die ‘klits kwyt” is in die kombuis van Martin en Rita Smit wat minstens die afgelope tien jaar al bekend is vir hul heerlike tuisgebak. Rita-hulle se “koekies” is loshande van die billikste in ons omgewing maar as jy dalk jou hand aan hierdie lekkernye wil waag, bak jy sommer jy eie. Rita-hulle deel twee van hul gewildste en maklike resepte met ons:  

 

 

 

 

 

Tunatert

Bestanddele:

2 koppies melk
6 eetlepels botter
6 dik snye brood met die korsies verwyder (fyngemaak)
Voeg by:
2 blikkies tuna (water gedreineer)
2 koppies gerasperde kaas
1 groot ui gerasper
6 eiers
‘n klein bietjie sout - onthou jy werk met tuna!

Maak nou so:

Meng alles deeglik saam. Voeg heel laaste 2 teelepels bakpoeier by en bak vir sowat 40 minute teen 180°C. Rond mooi af met ‘n tikkie gerasperde kaas bo-op net voor jy bedien of voordat dit vrieskas toe gaan…

Spek en kaas-botterbroodjies (scones”)

Bestanddele:

2 koppies meel
1 koppie kaas
1 pakkie spek (bacon) in klein stukkies gesny
1 koppie melk
1 teelepel sout

Maak nou so:

Begin eerstens deur die stukkies spek in ‘n pan te roerbraai - moet dit nie oorgaar maak nie. Meng dan alles saam. Skep in kolwyntjiepannetjies (cup cakes) en bak vir sowat 12 minute teen 200°C. Laat afkoel. Geniet net so of sny in klein “toebroodjies” en geniet met botter, biltong, kaas, tamatie of enige ander gunstelling-vulsel. Maar as jou mond nou (soos ons s’n verlede week) behoorlik water en jy het nie die gerief van tyd of lus vir moeite nie – skakel jy sommer vir Rita by 071 516 2094. Onthou, hulle lewer af ook…