Suid-Afrika is ‘n land vol tradisies, gewoontes en gebruike en die meeste hiervan is diep gewortel in die verskillende vertakkinge van ons sogenaamde reënboognasie. Neem nou maar braaivleis, hoe lank al kom inwoners van hierdie land nou al oor naweke (of sommer in die week) bymekaar om ‘n vuurtjie aan te steek, ‘n vleisie te braai en lekker om die kole te kuier. Dink net, nie eers die Boere-oorlog van die vroeë 1900’s kon daarin slaag om ons van hierdie gewoonte te laat afsien, of dit te verander nie. Ja, die braaivleistra-disie was diep gewortel in ons land…
Tot so ‘n jaar of tien of dalk ‘n bietjie langer gelede, toe die potjiekostradisie van die Voortrekkers ernstig begin herleef het en al wat leef en beef by feitlik elke moontlike bymekaarkoms minstens een potjie gemaak het… En in baie gevalle moet ons sê, is of was dit gewoonlik nie ‘n potjie wat gebruik is nie, maar ‘n POT! Wat ‘n mens laat wonder het: Waar die idee van “potjiekos” dan nou eintlik vandaan kom – sou “potkos” nie lekkerder op die tong geval het nie of wat?
Maar nouja, in vandeesweek se Raak die klits kwyt kry die woord “potjiekos” opnuut betekenis as Elsa Ferreira haar groepie vriende (toevallig ‘n kunsklas van Johannis Pienaar) wys hoe om elkeen sy eie, oulike klein potjie te maak… (die kleinpotjie-gewoonte word in die laaste tyd toenemend gesien en ‘n mens kan die vooraf “ingebrande” potjies by baie afdelingswinkels koop). Ook word die klein potjie natuurlik nie in die vuur of tussen vuurwarm kole gesit nie, nee, hy kry sy eie vlammetjie soos hiernaas beskryf word.
Elsa se pikante potjie (‘n resep van oom Wynand van Loggerenberg)
Plaas ‘n mini driepootpotjie op ‘n doelvervaardigde plankie (basis) waarop ‘n houertjie met brandbare gel vooraf aangesteek is. Die potjie moet goed verhit word voordat ‘n klein bietjie kook- of olyfolie bygevoeg word. Wanneer die olie goed warm is, voeg gekapte uie, sampioene en soetrissies by, meng deur en verbruin. Voeg repies of blokkies bees-, hoender- en bacon by volgens behoefte en smaak. Roer deur en sit die dekseltjie op sodra jou vleis begin gaar word.
Geur na smaak met kruie, speserye en blatjang of ander souse. Pak die res van die potjie vol groente soos murgpampoentjies, mielies, aartappeltjies, worteltjies, boontjies, brusselspruite of blomkool. Die bestanddele moet in klein porsies gesny word sodat die gaarmaaktyd vinniger is en om seker te maak dat die potjie genoeg groente het. (Let wel – laasgenoemde is vir die kinders – ons wat klaar groot is, veral ons manne, hoef nie regtig groente te eet nie – toemaar, net ‘n grappie, ons almal weet dat die kuns van potjie in die groente lê.)
Indien die potjie droog lyk, plaas een dikkerige skyfie tamatie in die potjie om ‘n sousie te vorm of gooi ‘n bietjie blatjang of sous van jou keuse by. Die potjie neem sowat ‘n uur om behoorlik en lekker gaar te word. Bedien saam met lekker basmati-rys, geelrys met rosyne of sommer net stampmielies of gewone wit rys. Lekker smul aan jou potjie.
Onthou – elkeen maak en eet sy eie potjie. Dit is dus ‘n goeie idee om sommer ‘n hele paar van dié oulike klein potjies te koop en net soos met ‘n Sjinese braai, ‘n hele skinkbord met ‘n verskeidenheid bestanddele uit te pak en aan te bied. Dit is regtig ‘n lekker kuier en heerlike ete – dankie Elsa!