21
Sat, Dec

Beef
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Soos ons in verlede week se “Raak die ‘klits’ kwyt” aangekondig het, het ons nou ook die reeks kosmaak-artikels met lede van Rustenburg Rotary afgehandel. Vir oulaas dan (vir slegs drie weke) keer ons terug na ‘n klompie “uitstaande” kookartikels met dames van die Vrouelandbou-unie se Platinastreek en ons rond dié baie interessante en aangename reeks af met ‘n laaste inloer op ons tuisdorp - Koster - waar ons deur ‘n groep raakvat-vroue ontvang is. Soos altyd het ons lekker gesels oor die boerdery en heerlik gesmul aan die eetgoed wat hulle vir ons voorberei het.

In die eerste van drie aflewerings in dié reeks, kuier ons saam met Hettie Liebenberg wat saam met haar vriendin en “kollega” (Nellie Prinsloo - “ons staan saam soos doopouers...”) al die pad van die plaas af gekom het om vir ons te wys wat hulle in die kombuis kan doen. “ On skop hierdie week af met Hettie se baie lekker maalvleisgereg wat in haar kerkkringe gedoop is “eenvoudig maar lekker...” en dit is maklik om te sien waar dié gereg sy nie-amptelike naam kry. Dit is regtig maklik om te maak maar sal ‘n hele tafel vol mans (of gewone mense) vir minstens 10 minute tjoepstil kry...

1 kg maalvleis 
2 uie gekerf
2 soetrissies gekerf
4 koppies rou skulpnoedels
1 blik geroomde suikermielies
1 blik tamatieroomsop
3 koppies witsous (gemaak van melk, koekmeel, sout en botter)
2 koppies gerasperde kaas
sout en peper

Metode
Braai uie en soetrissies in ‘n bietjie olie tot sag. Voeg maalvleis by en roer tot maalvleis net gaar is. Voeg rou noedels, suikermielies, tamatieroomsop, 1 koppie witsous en 1 koppie gerasperde kaas by. Meng goed en gooi in ‘n redelike groot bak. Standaard-oondbak in Pyrex of Corningware of soortgelyk is groot genoeg. Gooi nou die oorblywende witsous oor die gereg en strooi die laaste koppie kaas oor die witsous. Bak vir ongeveer een uur teen 180°C en haal uit en bedien. Dit is ook ideaal geskik om vir later gebêre te word.