Sjoe, die pas-afgelope naweek toe Rustenburg Herald se kookspannetjie gelukkig weer bekendes se voordeurklokkie moes lui vir ons kookafspraak vir vandeesweek, het ons net weer besef - om heerlik te eet hoef jou nie ‘n fortuin te kos nie en liefdevolle voorbereiding hoef ook nie ‘n lewenstaak te wees nie.
Ons het by twee Rustenburgse “ambassadeurs” Jakkie Goosen en haar dogter Chantelle Krause gaan kuier en met ‘n yskoue windjie in die lug is ons na sowat twee ure met warm magies en warm harte daar weg.
Niks eksoties nie (goed ja, behalwe miskien ‘n deeglike beesfillet) maar met liefde en genoeglikheid voorberei was dit vir ons maklik om te sê hierdie was nou weer een van daardie baie spesiale kook-uitstappies. Jakkie-hulle het dit só ‘n onvergeetlke maaltyd gemaak.
Bestanddele:
1 mediumgrootte beesfillet
500 ml room
1 Groot ui
1 Groenrissie
Peri-peri
Rooipeper
Chilli-vlokkies
Worchestershire Sous
6 Gun Grill Spice
Metode:
Sny fillet in klein repies. Braai uie en groenrissie tot goudbruin. Voeg fillet by en braai saam. Gooi Worchestershire-sous en 6 Gun-speserye by na smaak. Gooi sowat 500 ml water by en stoom effe.
Meng room en speserye na smaak en gooi oor vleis.
Prut vir 10 minute. Jy kan ‘n eetlepel vol botter ook byvoeg. Gebruik ongeveer agt mediumgrootte aartappels en maak lekker sagte kapokaartappels.
1½ koppie “double cream” Lancewood yoghurt met 2 koppies bruismeel. Knie tot ‘n sagte beslag. Deel in vier dele. Sny stukke en plaas dit op meel en rol uit. Plaas op warm bakplaat of pan om gaar te maak.
Draai gereeld om.
Bedien so:
Skep eers ‘n goeie porsie kapokaartappels en dan ‘n porsie filletrepies met lekker sousies bo-oor. Druk ‘n gesmeerde Naan-broodjie (wiggie) by jou porsie in en eet soos ‘n koning!