20
Mon, May

Beef
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Nouja, na seker omtrent 18 maande se heerlike kuiers en koke met VLU-dames van die Platinastreek kom Rustenburg Herald se “Raak die ‘klits’ kwyt-reeks oor ‘n week aan die einde van sekerlik die suksesvolste kosmaakreeks nog in ons geskiedenis. Dié wonderlike reeks lekkerste lekkers en soms sommer net egte boerekos en lekkernye kom uit die kombuis van vroue van Brits in die noorde tot Groot-Marico en Zeerust in die weste - almal lede van Noordwes se Platinstreek. Die reeks is vir ons gekoördineer deur Pam van Rensburg, voormalige voorsitter van die Platinastreek en nou president van Noordwes - Rustenburg Herald bedank alle ywerige en gasvrye dames en hul mans wat ons gul ontvang en hul kombuisgeheime met ons gedeel het. Ons kan julle die versekering gee dat ons lesers groot aanklank gevind het by dié reeks.

Maar natuurlik sal ons nooit ophou kosmaak nie - sien elders op hierdie bladsy ons aankondiging oor ‘n splinternuwe reeks wat wag en wat ons hoop net so suksesvol gaan wees.

In die volgende twee uitgawes - ons laaste twee VLU-dames - Francis Liebel en haar dogter Doret Zietsman wat ons met watertand-lekker eetgoed bederf.

Eerste aan die beurt is Francis wat vir ons ‘n ou “boeregunsteling” maak - maar met so ‘n byderwetse truuk daarby (vir ons in elk geval). Francis maak vir ons die immergewilde gekrummelde mosterdtong - ‘n variasie waarmee ons nog nie kennis gemaak het nie...

Sy maak dit so:
1 Tong van 1,5 kg vars of gepekel 
3 kruienaeltjies
6 peperkorrels
25 ml bruinsuiker
Sout indien vars tong gebruik word
Kook tong sag met kruie in kookwater.
Trek velletjies af.
Laat koud word en sny in skywe.

Sous:
25 ml kookolie en 250 ml kookwater
25 ml meelblom 50 ml witasyn
50 ml mosterdpoeier 250 ml Mayonnaise
125 ml witsuiker sap van 1 suurlemoen
3 ml sout

Meng olie, meel, mosterd, suiker, sout en kookwater tot glad.
Verhit tot kookpunt.
Haal af van hitte.
Roer asyn, Mayonnaise en sap by.
Pak tongskyfies en sous om die beurt in vuurvaste oondskottel.
Skeep heel laaste die sous bo-oor
Strooi broodkrummels bo-oor.
Bak vir 30 minute.