20
Mon, May

'Braaivleis'
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ek hoef nie die lof van braaivleis, of braaivleis se plek in die Suid-Afrikaanse kultuur, te besing nie.
Dit is ‘n onbetwisbare feit – soos ‘n koei. En ons gaan nou ook nie vandag hier argumenteer oor hóé jy braai nie: hout, charcoal of gas – die doel heilig die middel. Of jy jou vleis nog amper rou eet, of tot houtskool verbrand, is ook nie op die agenda vir dié kookrubriek nie; daardie is jou persoonlike voorkeur en gevolglik jou eie saak. Wat ons vandag wél oor gaan praat, is staatmakerbykos. Iets tradisioneel soos roosterkoek, en dan ‘n nuwigheidjie soos groente-in-‘n-braaisakkie. Ook op die spyskaart is knoffelsampioene en ‘n romerige pepersous vir die kruiskyf. Ons braaier die week is die jonge Hugo Grobler (9). Dié kranige aspirant-sjef het by Pieter Germishuys, hoof van die Inspirare Culinary Instituut raad en hulp gekry vir sy eerste Rustenburg Herald/Tambuti Kombuis-kook.
Die groente-in-‘n-braaisakkie kan eenvoudig nie makliker wees nie! Jy gebruik gemengde groente, geur met Aromat (of jou keuse van geurmiddel), skep dit in jou braaisakkie en sit dit op die rooster tot dit na jou smaak gaar is.

Hugo beduie mooi in die video wat jy alles moet doen om dit ‘n spyskaarttreffer te maak.
Die roosterkoek is byna nét so maklik.

Jy benodig:

1kg Koekmeel of Wit broodmeel
10g Kitsgis
1t Suiker
½ t Sout
2k Water (louwarm)
2 eetl Olyfolie

Metode:

Sif die meel in ‘n bak wat groot genoeg is sodat jou deeg kan rys. (As jy iewers in die bos is en jy het nie ‘n sif nie, is dit nie doodsake nie.)
Voeg die kitsgis en suiker by die meel en meng deeglik met jou hande.
Voeg die sout by en meng nog so bietjie.
Voeg die water bietjies-bietjies by en knie die deeg liggies. Indien die deeg te slap is, voeg nog ‘n bietjie meel by, want as die deeg te slap is, gaan die roosterkoek deur die rooster val – en dis nie goed nie.
Voeg nou die olyfolie by en knie die deeg vir sowat 10 minute. Die deeg is reg wanneer dit nie meer aan jou hande klou nie en dit ‘n vormbare bal is.
Maak jou kniebak met vadoek of iets soortgelyks toe en laat rys vir so 10 minute. Maak seker jou deeg gaan nie koud kry nie.
Haal die vadoek af en knie weer vir ‘n minuut of twee.
Maak weer die deeg toe en laat rys vir ongeveer ‘n halfuur.
Strooi meel op jou werksoppervlak en vorm die deeg in ‘n reghoek of ‘n vierkant.
Gebruik ‘n skerp mes en sny die deeg in vierkante.
Los vir ‘n paar minute sodat jou deeg weer kan rys.
Bak oor matige kole vir 20 minute, Draai dit gereeld om.
Bedien warm met botter en wat anders ook jou hart gelukkig maak – die lewe is te kort vir vervelige brood.

Vir die pepersous benodig jy:

100ml Botter (of Margarien)
100ml Koekmeel
100g growwe Peper
Melk

Metode:

Smelt die botter, roer die meel by en dan die peper.
Voeg melk geleidelik by en roer deeglik om klonte te voorkom.
Proe aan die sous om seker te maak dat jy die smaak van die peper kry.
Kook stadig oor ‘n lae hitte tot gaar.