20
Mon, May

'Braaivleis'
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Dit is nogal ironies, veral na of tydens die beproewinge van Covid-19, maar ja, die winter van 2020 was snerpend koud. Wie weet, dalk was die koue winter Moeder Natuur se bydrae om mense te ontmoedig om in groepies bymekaar te kom vir daardie “rare” ritueel waarin verkieslik ‘n groot klomp rou vleis op oop vure/kole gebraai word. Onder die mense waar hierdie “ritueel” slaafs nagevolg word, is daar in die laaste paar dae groot opwinding omdat dit darem wil lyk of die lente- en somersmaande omtrent hier is. Dan moet ons seker ook skerts - vir die mense wat dalk nog ‘n stukkie wildsvleis in die vrieskas het en nie die afgelope “jagseisoen” só erg deur die inperkings die skrik op die lyf gejaag is dat hulle intussen vegatariërs geword het nie, is die koms van die somer sekerlik goeie nuus. Ons skop hiermee ons lente- en somerspyskaart af met ‘n heerlike tradisionele resep - lekker kerriesosaties op ‘n warm vuur en hoe om dit alles bymekaar te kry indien jy dan wel die afgelope tyd jou wildvleisvoorraad uitgeput het. Die resep is van ‘n familielid ja, (noem dit maar nepotisme) - swaer Manus Boonzaaier, voorheen van Rustenburg, is die man wat ‘n ou familieresep met ons deel. Dit is gekomplimenteer met ‘n verskeidenheid bykosse en uithalerslaaie en nog ‘n wonderlike ding - tuisgebakte brood om die prentjie af te rond

Bestanddele
Vir die sosatiestokkies:
1 kg skaap- of beesvleis in blokkies gesny
1 tot 2 uie, in skywe gesny
1 koppie gedroogte perskes (opsioneel)
1 groenrissie/rooirissie

Marinade vir sosaties:
2 k asyn
1 k water
2 t borrie
2 e kerriepoeier (hoogvol of na smaak)
2 e suiker
4 groot uie fyngekap
3 e appelkooskonfyt
1 e Worcestersous
1 e sout
peper en braaivleisspeserye na smaak

Metode:
Ryg al die bestanddele vir die sosaties op lekker skerp metaal- of houtstokkies en plaas eenkant. Kook al die bestanddele vir die marinade behalwe die sout, peper en braaivleisspeserye vir 20 minute saam. Laat afkoel. Marineer die sosaties vir ‘n dag. Gooi die sout, peper en speserye net voor dit vuur toe gaan oor die vleis en braai daarna oor matige tot taamlike warm kole. Let op dat kole nie te warm is nie sodat jou stukkies groente, vrugte en ander “onderdele” van die sosaties nie deur die hitte verskroei word nie.