As die ma van twee woelige jong dogters – en as kleuterskoolonderwysers met nóg ‘n paar hande-vol peuters en kleuters – kan Anica Thomas nie anders as om ‘n voorslag in die kombuis te wees nie. Met haar hande wat fluks besig is om te kap, meet en roer, is al wat by haar besige hande kan by-bly haar mond wat land-en-sand saamgesels.
Anica sê sy het nog maar altyd ‘n liefde vir kosmaak – dit het in haar ouerhuis begin het toe sy as jong dogter sommer gereeld aangesê is om solank die “potte aan die kook” te kry vir aandete. Sy het gou besef dat sy ‘n natuurlike liefde het daarvoor om in die kombuis te woeker en werskaf - en dat die persoon wat die kos maak by enige partytjie, geselligheid of byeenkoms altyd almal se gunsteling-mens is.
Anica het dus op ‘n dag besluit om te begin eskperimenteer met resepte – en die res is geskiedenis! Kom kuier gerus saam met Rustenburg Herald in haar kombuis hierdie week – waar Anica haar weergawe van soet-en-suur varkbredie gemaak het.
Bestanddele:
1 Opgehoopte eetlepel Garam masala
1 Opgehoopte eetlepel Tandoori masala
Sout na smaak
80ml Bruin appel- of pynappel-asyn
80ml Suiker
Vars gemmer
80ml All Gold tamatiesous
2-3 Mediumgrootte uie
1.2 kg Varkvleis
Olie - genoeg om mee te braai
3 Gekapte botterskorsies
1 Bossie spinasie (gewas)
500ml Room
Water soos benodig
• Sny die uie fyn, voeg saam met olie in ‘n pot en braai totdat dit bruin begin raak
• Sny die vleis in growwe stukke terwyl die uie braai
• Voeg die spesery by die uie- en vleismengsel
• Sodra die speserye klam is, kan jy die pot roer sodat die vleis eweredig bruin braai
• Neem ‘n stuk vars gemmers, skil dit en voeg by die vleis, uie en speserye om te braai (haal dit weer uit sodra die dis bedien word)
• Gooi die asyn in klein hoeveelhede by sodra die vleis droog gebraai is. Gooi die res van die asyn, sowel as die tamatiesous by, wanneer die vleis mooi bruin gebraai is
• Die botterskorsie kan ñ paar dae voor die tyd voorberei word sodat die blokkies individueel bietjie uitdroog. Dit help dat hulle hul vorm behou (maar dis nie noodsaaklik nie).
• Voeg olie in ‘n braaibak en braai die blokkies botterskorsie in die oond teen 180°C totdat dit gaar en ligbruin is. Meng dit so een keer om eweredig te braai.
• Gooi nou die suiker by die vleismengsel en roer goed deur
• Gooi ook die tamatiesous by die vleismengsel en roer goed deur
• Voeg water by – soos nodig – sodat die vleismengsel nie uitdroog nie
• Was en sny die spinasie in growwe stukke en plaas bo-op die pampoen sodra die pampoen gaar is. Gooi die helfte van die botteltjie room oor en bak tot die spinasie begin gaar word
• Haal die groentegereg uit die oond en gooi dan die res van die room oor sodat al die spinasie room ophet. Bak tot gaar en skep op saam met die gaar varkbredie.
Bedien met rys.