21
Sat, Dec

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In die afgelope vier weke se aflewering van Raak die klits kwyt kuier ons in die kombuise van Rustenburgers wat lede van die Internasionale Rotary-beweging is. Rotary International beywer hom vir gemeenskapsprojekte - meestal in sy onmiddellike omgewing - om uit te reik na gemeenskappe waar daar groot behoefte is of aan spesiale projekte wat op fondsinsameling gefokus is sodat hierdie belangrike werk voortgesit kan word. Maar Rotary se mense kan ook al te lekker sosiaal verkeer en kuier - as jy nie ‘n mense-mens is nie, is Rotary waarskynlik nie vir jou nie...

Vandeesweek kuier ons by Cecilia Roux van Rustenburg Travel wat nie net deur middel van Rotary internasionale “bande” het nie, maar wat ook gereeld reis en groot dele van die wêreld gesien het. Cecilia word bygestaan deur Bernard van der Walt - nog ‘n Rotariër wat gemeen het dit is nie reg as die vrou alleen werk nie. Cecilia en Bernard maak vir ons ‘n watertand-lekker Soet Hoenderkerrie - onthou gerus dié resep wanneer die winter oor ‘n maand of wat op hande is...

“Kyk, ek hou van Indiese, Maleise en Thai-kerries. Ek het egter grootgeword met gewone boksie-soet-appelkooskonfytkerie - dit neem my nogal terug na my kinderjare”, vertel Cecilia terwyl sy die ketel en die stoof aansit. Sy maak haar Soet Hoenderkerrie só:

Betanddele:
1 kg hoenderboudjies 
1 ui
30 ml olie
2 knoffelhuisies
1 blokkie hoenderekstrak of 10ml hoenderpoeier-ekstrak
750 ml warm water
2 lourierblare
60 ml kerrie
60 ml appelkooskonfyt
60 ml asyn
60 ml suiker
30 ml borrie
sout en peper na smaak.

Metode:
Sny jou 1 kg-hoenderboudjies (of sommer gewone heel hoender) op in porsies. Sny jou ui in ringe en braai in olie tot glaserig. Braai nou jou fyngekapte knoffel saam met die ui. Voeg jou hoender by en braai die hoender tot dit mooi ligbruin is. In ‘n mengbak los jy jou hoenderekstrak in die warm water op. Gooi die res van die bestanddele in die mengbak by die hoenderekstrak en roer goed. Gooi dit nou oor die hoender in die pot en laat dit prut vir ongeveer 30 minute - dit behoort nou los van die been en lekker sag en gaar te wees.

Om die kerriesous in jou pot te verdik roer jy 10 ml Maizena in 80 ml koue water tot dit ‘n pasta vorm. Roer dit deur jou Kerrie hoender en laat dit prut vir 10 minute. Bedien jou hoender met rys. ‘n Gemengde slaai en skyfies piesang en dalk ‘n bietjie lekker soet-blatjang en klapper vorm die ideale kombinasie. Lekker eet mense!