20
Mon, May

Venison meat
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Tot dusver hierdie winter het ons in Rustenburg Herald se weeklikse "Raak die 'klits' kwyt" (kosmaak-reeks) al te lekker weggelê aan die heerlike wildsvleisgeregte en bederfies uit die jagveld - meestal wildpastei wat telkens met groot sukses voorgesit is en 'n mens jou opnuut laat verwonder het aan die geur en smaak van goeie wildsvleis. Party mense weet regtig hoe om wildvleis gaar te maak sodat dit betreklik "mak" smaak.

Daar is mos maar die storie dat 'n mens soms sukkel om die "wild" uit wildvleis te kry. Terwyl sommige mense dit met gemengde sukses regkry, is daar wildsvleis-spesialiste onder ons wat vir jou 'n stukkie wild kan voorsit waarvan die meeste mense seker maar net kan droom - "sag soos 'n moederhart" (soos oom Joos altyd gesê het as hy 'n stukkie goeie vleis oor sy slaghuis se toonbank vir jou aangegee het...) maar sommer ook baie ander kwaliteite, werklik geurig, smaaklik, nie te ryk nie, 'n tikkie pikant kan 'n mens amper sê maar veral, totaal en al buitengewoon.

Cobus Roode van Rustenburg is so 'n man. Diegene wat Cobus "ken" sal jou vertel dat hy by sy huis omtrent geen ander vleis as wild eet nie en dat hy 'n spesialis is wat sy eie wild (In Namibië) jag en in 'n verskeidenheid van snitte laat verwerk. Ons het hier aan die stertkant van vanjaar se winter die voorreg gehad om saam mt Bill McGill (nog 'n wild-spesialis - met die verfkwas en die vurk/lepel) by Cobus en vriendin (Silke Burdack) se tafel vir 'n watertandlekker gebraaide gemsbokfillet aan te sit. Ons het nog nie hierdie winter (of enige ander een) aan sulke absoluut voortreflike wildvleis gesmul nie...

Cobus en Silke maak dit so:
Bestanddele:
500g Gemsbok of Springbokfillet (beesfillet werk net so goed);
500 ml vars room;
1 koppie Balsamiese asyn, “fig infused” Balsamiese asyn gee nog lekkerder smaak;
Speserye, verkieslik Cerebos se garlic and Herb speserye;

Metode:
Ontdooi fillet en sny senings uit;
Sit in casserole-bak;
Gooi room oor;
Gooi 1 tot 1 ½ koppie Balsamiese asyn by;
Voeg redelik speserye by (ek gooi ten minste 2-3 eetlepels want die speserye moet 'n pertinente smaak en geur gee);
Meng alles goed of draai vleis 'n paar keer om sodat alles meng en vleis bedek;
Laat staan oornag, of begin proses ten minste 8 ure voor braaityd;
Terwyl vleis nog in casserole is, draai elke paar uur om, prik die vleis deeglik met ’n vurk en verseker vleis is bedek;

Aartappelgereg:
Stoom 4 - 6 heel aartappels voor die tyd. Moenie afskil nie;
Sny in wiggies wanneer dit 80% gaar is en laat afkoel;
Sny 2-3 rooi uie ook in wiggies;
Voorverhit oond tot 200 °C;
Voer bakplaat met foelie uit,
Plaas aartappels en uie op foelie;
Bedruip wiggies met olyfolie en sprinkel Cerebos se “Braai salt” speserye mildelik oor;
Gooi vars roosmaryntakkie se blaartjies oor, asook gedroogde roosmaryn (dit gee BAIE lekker smaak!!)
Rooster in oond tot aartappels en uie lekker bros is;
Maak intussen lekker Griekse vars slaai of net tradisionele tamatie, uie en blaarslaai bedruip met olyfolie en balsamiese asyn, sout en peper.

Braai só:
Maak lekker warm kole of sit gasbraaier op “high” aan. Braai fillet aan weerskante vir 3-5 minute elk. Sny redelike medalions terwyl op vuur, plaas medalions terug in casserole met sous, bedek aan weerskante, sit terug op vuur/kole en braai weerskante net tot bruin. Let wel, goeie vleis soos fillet moet nie te gaar of “well done” gebraai word nie - hoe meer “rare” hoe beter…Maak seker aartappels, uie en slaai is reeds op die tafel en gaste sit reeds aan wanneer jy jou fillet warm voorsit. Bedien met goeie rooi wyn.