18
Mon, Nov

Baked Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ons lesers wat die weeklikse Raak die klits kwyt-rubriek volg en daarvan hou om te sien met water koskunsies mense in hul kombuise vorendag kom, het seker opgemerk dat Rustenburg Herald se “kookspan” binnekort met ‘n opwindende reeks tradisionele resepte en disse uit ons eie VLU-kringe begin. Ons sien eintlik al lankal uit na so ‘n reeks kos-artikels (dalk moet ek sê ons lek al lankal die lippe af...?) want dit is mos maar nie ‘n geheim dat ons VLU-dames van die “platteland” nie maklik op hul plek gesit word as dit by kosmaak kom nie. Ons dames wat altyd vir ‘n wonderlike resep op die uitkyk is, sal baie wys wees om so gou moontlik ‘n groterige plakboek gereed te kry - dit gaan mos nou maklik wees om sommer net elke week se uitgawe uit te knip en die bladsy in u plakboek te plak. Miskien kan ons een van die mooi dae ‘n Rustenburg Herald-uitsoekresepteplakboekkompetisie loods? Sjoe - dit ‘n lang word - so genoeg gepraat - kom ons gesels kos. 
Ons het by geleentheid by tannie Ella Pienaar, moeder van die Rustenburg-kunstenaar - Johannis Pienaar - ingeloer en verneem van die wonderlike lekker gemmerpoeding wat sy maak. Dit was ‘n gunsteling van haar eggenoot - oom Corrie - van vroeg vanjaar oorlede is. (Terloops - oom Corrie en tannie Ella was ‘n ongelooflike 61 jaar getroud - ons dra hierdie week se kook aan oom Corrie op...) Vandeesweek stel ons vir tannie Ella aan u voor en wys vir julle hoe om hierdie lekker nagereg te maak...

Sekerlik die wonderlikste van hierdie resep is dat dit so eenvoudig is om te maak en dat ‘n mens keer op keer ryklik beloon word vir elke bietjie liefde wat jy daarin byvoeg...

Bestanddele:
2 koppies meel; 
2 eetlepels botter;
2 eetlepels appelkooskonfyt;
2 eiers;
2 teelepels gemmer;
2 teelepels pypkaneel;
3 teelepels koeksoda (opgelos in ‘n bietjie melk);
¼ teelepeltjie sout.

Metode
Meng die eiers, botter en konfyt. Meng dan die droë bestanddele en voeg by die bottermengsel. Die bietjie koeksoda word heel laaste bygevoeg en dan meng jy alles goed.

Stroop
6 koppies water;
2 koppies suiker - laat tot ‘n lekker stroop kook. Skep dan teelepeltjies of as jy verkies - lepels vol van die beslag in die kokende stroop. Kook stadig op medium-hitte vir 20 minute. Bedien met ‘n lekker tuisgemaakte vla of koop sommer by die kruidenier op die hoek as jy dit verkies. Ons skerts altyd en sê jy moet min mense nooi as ‘n ding baie lekker is - in die geval van tannie Ella se gemmerpoeding sal dit dus raadsaam wees om eers te proe en dan te besluit of dit hoegenaamd nodig is om mense te nooi... Baie lekker - dankie tannie Ella!