21
Sat, Dec

Baked Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Rustenburg Herald se kookspan het onlangs by die kombuis van Jennie en Nia en die res van die vrolike klomp Viljoens by Olifantsnekdam ingeloer waar ons op allerlei lekker eetgoed getrakteer is. “Kleinsus” Nia het by die geleentheid vir ons ‘n Hoendergereg a la Nia gemaak. Dié week is dit ousus Jenni wat ‘n heuningtert opdien waaroor gedigte geskryf kan word. Ons het dadelik tot die slotsom gekom dat Simson sommer ‘n hele trop leeus sou stormloop vir ‘n happie van hierdie heuningtert wat sekerlik baie lekkerder is as ‘n paar handevol heuning uit die ribbekas van ‘n dooie leeu. As daar van ons lesers is wat nou nie die kloutjie by die oor kan kry nie, trek gerus weer die bybelverhaal van Simson nader. Maar met respekte gesê, hierdie resep sal jy ongelukkig nie daar vind nie...
Nouja, sonder enige verdere verwyl – hiermee Jenni se heerlike heuningtertresep – jy moet dit eenvoudig beproef!

Bestanddele:

250 ml koekmeelblom
125 ml strooisuiker

20 ml bakpoeier
1 ml sout
125 ml melk
50 ml margarien/botter
1 eier
50 ml heuning
25 ml botter

Metode:
Verhit oond tot 180°C. Smeer ‘n tertbord met Spray ’n Cook/botter. Sif meelblom, suiker, bakpoeier en sout saam in ‘n mengbak. Gooi die melk in ‘n klein kastrol oor ‘n matige hitte. Voeg die 50 ml botter/margarien by. Haal dadelik van die plaat af wanneer botter gesmelt is. Klits eier en roer by die melkmengsel. Roer die louwarm melkmengsel taamlik vinnig in die meelmengsel in groot mengbak. Moenie beslag laat staan nadat dit gemeng is nie. Sit in oond en bak vir 15 minute.

Sous:

Plaas kastrolletjie op stoofplaat oor matige hitte. Laat heuning en 25 ml botter saamsmelt. Moenie laat kook nie. Haal tert uit die oond en gooi die heuningsous oor terwyl die tert nog warm is en smeer oor die hele tert met ‘n spatula. “Versier” so hier-en-daar met spuitroom en bedien. (Wenk: Skep eers vir jouself twee stukkies uit want as jy jou weer kan kry, is die tertjie skoonveld – vra maar vir Jenni!). Ons sal nie sommer gou weer kerm oor die prys van heuning nie!