20
Mon, May

Baked Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ons wonder of dit net ons is of is dit maar oor die algemeen so dat mense dink dat alles wat met kos, koek, tert, poeding of enige ander lekkerny (ook bederfies soos gemmerbier of allerlei vrugtesappe) te doen het, veel beter is op die platteland? Iemand het by geleentheid gesê dat almal in Suid-Afrika vandag se bloed op een of ander manier eers “deur die grond” geloop het. Wie van ons kan nie kinderdae of vakansies op oupa, ouma, oom of tante se plaas onthou nie? 
Maar dan wil ons sommer in dieselfde asem sê - nee, ons wil onder geen omstandighede aanstoot gee nie, ons dink die dames (en mans?) in die stede kan net so wonderlik in die kombuis woeker - of dit nou wors maak, biltong ophang, of enigiets is wat met ‘n mens se smaak te doen het. Maar synde die oorsprong van die VLU - Vroue-”landbou”-unie - is dit sekerlik hoegenaamd nie ‘n fout om te meen dat ons VLU-mense almal met minstens een streepsak vol plaasgeheime in ons kombuise of spense sit nie. Maar genoeg gepraat, kom ons vertel vir ons lesers van ons jongste ervaring op die platteland. Ons het ‘n week of wat gelede by die plaas van Kobus en Pietie Basson tussen Groot-Marico en Zeerust gaan inloer. Ja, in ons gewilde VLU-reeks kuier ons behoorlik wyd en ons dink darem nie dit is net Rustenburgse mense wat kan “kook” nie. Elk geval - tant Pietie het ons met ‘n wonderlike eetding met ‘n naam so eenvoudig soos “Kits Bruinpoeding” bederf - maar boeta - moenie ‘n fout maak nie... Vir ‘n “groot en fris” knaap van die plaas “soos ek” (sic) was een bordjie se proe beslis nie genoeg nie. Snaaks - selfs wederhelf Cecile het... (toemaar - laat ek liefs nie my mond verbypraat nie, anders ry ek volgende keer dalk alleen platteland toe (wat opsig self natuurlik nie ‘n slegte ding is nie...)

Tant Pietie se Kits Bruinpoeding word só gemaak:

Bestanddele
½ koppie Appelkooskonfyt 
2 teelepels (afgeskud) koeksoda
½ koppie botter of margarine
1½ koppie koekmeel
1 teelepel sout
(Ja - dis al - kan jy glo dit is so eenvoudig?)

Metode
Meng die konfyt, koeksoda en botter. Voeg die meel en sout (gesif natuurlik) by en meng. Die beslag sal droog en krummelrig lyk. Skep dit lepelsvol (om effense “bolletjies” te maak) in die stroop wat reeds kook - ons wys jou hieronder hoe om die stroop te maak - ewe maklik!

Maak die stroop só
3 koppies water
1 koppie suiker
1 teelepel kaneel of gemmer

Laat kook vir ‘n halfuur baie stadig.
Bedien jou kits Bruinpoeding louwarm met vla of roomys (of albei) - baie, baie lekker... Tannie Pietie - ons kom beslis weer kuier!