21
Sat, Dec

Bread / Dough
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Monica Rudolph sê kosmaak is in haar bloed - dis ‘n familietradisie. Só onthou sy met ‘n glinster in die oog hoe sy op sewejarige ouderdom haar ma in dié se slaapkamer toegesluit het, omdat sy doodeenvoudig vasberade was om die toebroodjierooster te gebruik (alhoewel sy straks verbied was). Sy wou haar hand aan die maak van hoender-en-Mayonnaise geroosterde toebroodjies slaan en het dan ook haar natuurlike aanslag vir aanbieding getoon toe sy die gewraakte toebroodjie met ‘n kersietamatie op ‘n stokkie in die middel van die die toebroodjie vir haar ma opgedien het. Die res, soos hulle sê, is geskiedenis. Monica is nie iemand wat hou van resepte volg nie en moes omtrént kopkrap om haar mini-souttertjies op ‘n metodiese manier aan ons lesers voor te lê. Dié resep is ‘n heerlike kosblikhappie, “breakfast-on-the-run”, ‘n heerlike knibbel-dingetjie as onverwagte gaste opdaag en sommer net iets om die hongergaatjies in die maag te stil – aangesien hierdie souttertjies gemaklik gevries en vinnig ontdooi kan word. Boonop kan die vleis- en groentebestanddele vervang word na gelang van voorkeur en is dié resep dus iets waaraan mens nooit uitgeëet sal raak nie. 

Spek en spinasie mini-souttertjies

Bestanddele:

1 pakkie spek
100g spinasie
1x 250g maaskaas
6 ekstra groot eiers
1 fyngekapte ui
1 tl knoffel
2 eetl meel
1 tl bakpoeier
1 tl bakpoeier
1/2 koppie melk (125 ml)
3 koppies gerasperde cheddar-kaas
Olyfolie
Speserye na smaak (sout, peper, paprika, gedroogde Italiaanse speserye, mosterdpoeier 
2 eetlepels gesnipperde grasuie/”chives”)

Metode: 

1. Voorverhit die oond teen 180°C.
2. Neem een ui en kap dit fyn. 
3. Braai fyngekapte ui en spinasie in olie.
4. Voeg die spinasie by en braai verder.
5. Plaas die spek in die lugbraaier teen 190°C vir 15 min.
6. Sny die grasuie fyn.
7. Voeg die spinasie, uie- en knoffelmengsel in ‘n mengbak.
8. Meng die spinasie-, uie- en knoffelmengsel saam met maaskaas in die mengbak. Voeg die meel, bakpoeier en 2 koppies cheddar-kaas by en roer deur. Gooi die eiers, melk en speserye in en meng goed deur. 
8. Sny die spek in kleiner repies en voeg dit by die eiermengsel.
9. Bak in oond teen 180°C vir 15-20 minute (of tot amper gaar) in pannetjies wat ietwat groter as kolwyntjiepannetjies is.
10. Haal uit die oond en sprinkel oorblywende kaas oor. Bak vir ‘n verdere 5 minute tot die kaas smelt.