20
Mon, May

Bread
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Vra maar vir enigeen wat voorverlede week onder die bykans 100 000 besoekers by Nampo net buite Bothaville was, wat vir hom/haar die hoogtepunte was en jy sal vinnig hoor dat die reuse verskeidenheid kosstalletjies nogal hoog op die lys van gunstelinge was. Ja, dit is nogal opvallend hoe mense deesdae in Suid-Afrika al hoe meer neig na die "outydse" gunstelinge  - of dit nou kos, modes of motors is – die Engelse woord “retro” word deesdae dikwels ingespan om die styl van vervloeë dae te beskryf…

In Rustenburg het ons onlangs die Klein Karoo Kombuis van Gerrit en Riana La Grange raakgeloop. Hier is die “ouwêreldse” roosterkoek in verskeie gedaantes die hoofgereg op die spyskaart. Ons het gaan aansit en was verbaas oor die allermins “beskeie” grootte en die billikheid van die porsies en is uiteindelik met amper ‘n “sak vol” roosterkoeke daar weg.

Ons het vir Riana gevra of sy en haar span nie vir ons “raak die ‘klits’ kwyt” wil “kook” nie en dit is presies wat ons vandag vir die lesers opdis… (Ons moet byvoeg dat Klein Karoo Kombuis se roosterkoekresep ‘n goed-bewaarde “geheim” is – Riana ken egter ‘n rits roosterkoekresepte sommer so uit die vuis – hierdie een behoort groot byval te vind. Klein Karoo Kombuis maak dit so:


Roosterkoek op die braaivuur…

500 ml bruismeel (2k)
2.5 ml sout (1/2 t)
25 ml suiker (2 e)
25 ml margarien of olie (2 e)
200 ml water (4/5 k)

Sif die droë bestanddele saam. Meng die Margarien of olie daarby. Voeg die water daarby om `n taamlik stywe deeg te vorm.
Vorm die roosterkoekies met die hand – gebruik meel indien dit aan die hande vassit.
Braai dit op `n rooster oor die braaivleisvuur. Onthou om dit baie gereeld om te draai.

Vul die Roosterkoek met enige denkbare vulsel – dink in die rigting van maalvleis, uie, tamatie en ‘n lekker sousie of min of meer dieselde maar met fyngemaakte hoender instede van maalvleis. Ander opsies sluit in heerlike tuisgemaakte konfyt of sommer net blatjang, kaas, biltong of ‘n lekker dun (of dik) stukkie varsgebraaide biefstuk. Daar is natuurlik ook mense wat nie veel vir ‘n vulsel omgee nie, sommer net ‘n goeie skeppie lekker vars plaasbotter of Margarien en jy is reg… Geniet dit