20
Mon, May

Bread
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Nouja, na ‘n hele paar weke se heerlike kuier op die plaas, is ons vandeesweek met alle mag en mening terug in die stad. En ja, ‘n mens kan dit seker ‘n betonoerwoud noem as jy wil, hoewel baie nie sal saamstem dat Rustenburg regtig vir hierdie effe kwetsende beskrywing kwalifiseer nie.

Nee, “betonoerwoud” laat ‘n mens liewers dink aan plekke soos “Bobbejaansberg” hier anderkant die bult en nou hoop ons dat mense van daardie rantjies nie aanstoot neem nie. In elk geval, Rustenburgers is mos lief om te sê dat die hoë stadspoorte en besige snelweë nie daarin kon slaag om dié mooi dorpie met die pragtige bome van sy plattelandse atmosfeer te ontroof nie…

Maar terwyl ons plattelands verkeer beweeg ons terselfdertyd in ‘n kontinentale rigting met ‘n ontbythappie wat veral deur die Switsers gewild gemaak is. Ons sit aan tafel by Wiesenhof Rustenburg (by die “rooi boom” op die hoek van Beyers Naudé- en Brinkstraat) waar Chris en Petronella Vosloo en die Wiesenhofspan ons op ‘n Switserse Spek en Sampoenontbyt trakteer terwyl ons die “berugte” Wiesenhofkoffies een-na-die-ander afsluk.

Man, dit smaak vorentoe en is net die regte plek om vir ‘n vinnige maar smaaklike ontbyt in te loer voordat die rugby afskop. Ja, daar is kwalik ‘n beter dag as sommer nou eerskomende Saterdag wanneer die Bokke gaan probeer om teen Fiji beter te vaar – moet dit nie misloop nie – hierdie is ‘n wonderlike alternatief vir die tradisionele spek en eiers-ontbyt.

Bestanddele
40 g spek in blokkies gesny; 
2 snye brood;
40 g mozzarellakaas;
100 g gesnyde sampioene;
10 ml room
25 ml melk.

Metode
Jy maak eers ‘n Fransie roosterbroodjie: Klits eiers en melk saam tot dit goed gemeng is. Doop die snye brood mildelik in die eiermengsel en braai in ‘n pan met 10 ml botter tot mooi goudbruin aan beide kante, plaas eenkant.

Vulsel
Braai die spek en sampioene in dieselfde pan, geur na smaak met sout en peper. Voeg die kaas en room by die sampioene. Skep nou die vulsel op die Franse roosterbroodjie(s) en plaas die tweede sny bo-op. Sny deur en bedien warm. Hierdie is ook die ideale manier om vir man- of vroulief met ‘n heerlike ontbyt in die bed of by die ontbyttafel te bederf – enige kind met ‘n bietjie verbeelding kan dit maklik opdis en voorsit.

By Wiesenhof word dié heerlike ete gewoonlik met skyfies bedien en sal jou minder as R50 uit die sak jaag. Dan het jy maklik nog ‘n geldjie vir ‘n lekker koffie of cappuccino en ‘n fooitjie vir jou vriendelike kelner. Dankie Chris en Wiesenhofspan – lekker atmosfeer en pragtige plek – beslis ‘n besoek werd!