20
Mon, May

Bread
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

 

In hierdie laaste kort reeksie kos-artikels kuier ons vir die volgende drie weke vir oulaas by dames van die Koster-tak van die Vrouelandbou-unie se Platinastreek. Dié reeks baie interessante en natuurlik “heerlike” kuiers is vir ons gereël deur Pam van Rensburg - toe nog voorsitter van die VLU se Platinastreek en nou President van die VLU in Noordwes. In die reeks het ons gekuier van Brits in die noorde tot Groot-Marico en Zeerust in die weste en in elke kombuis is ons gul ontvang en getrakteer op uithalergeregte, poedings, koeke, terte en tradisionele lekkernye soos net ons Suid-Afrikaanse vroue kan voorsit. Ja, ‘n man of trouens, enigiemand, wat daarvan hou om regtig lekker te eet sal moet mooi ding voor die tasse gepak word om na Australië of dergliks te verhuis soos so baie mense deesdae doen. Nêrens sal jy so lekker eet soos in ons wonderlike land nie - tog jammer dat daar dinge gebeur wat ons mense soms moedeloos maak.

In ons Kosterkuier van hierdie week, wys Nellie Prinsloo vir ons hoe om haar eie weergawe van die gewilde “Spurbroodjie” te maak. “Wanneer ‘n mens by dié gesinsrestaurant instap en na die slaaitafel stap, is daar benewens pragtige vars slaaie altyd ‘n varsgebakte broodjie wat al te lekker lyk. ‘n Mens kan jouself nie help om ‘n snytjie van hierdie broodjie in jou bordjie te skep nie. Daarom dat ek ‘n bietjie inisiatief gebruik het en my eie “Spurbroodjie” ontwikkel het”, vertel Nellie. Uiteraard het ons geproe en die bottertjies sommer dik gesmeer - ons stem saam - dit is ‘n watertandbroodjie - jy maak dit só:

Bestanddele
1 liter kookwater 
125 ml bruinsuiker
4 x 250ml semels
500 ml koekmeelblom
500 ml volkoringmeel
5 ml sout
5 ml bakpoeier
250 ml droëvrugtekoekmengsel
250 ml sonneblomsaad
10 ml koeksoda opgelos in 25 ml water.

Metode
Voorverhit jou oond tot 180 °C. Spuit twee broodpanne van 21 x 11 x 7 cm (of wat jy het) met kleefwerende middel. Giet die kookwater oor die bruinsuiker en roer tot dit opgelos is. Voeg die semels by en laat afkoel. Meng die res van die bestanddele saam en giet die semelmengsel by. Meng goed deur en skep in die voorbereide panne. Bak vir 1 uur lank of tot gaar. Bedek die brood na sowat 20 minute met tinfoelie sodat dit nie bo-op te donker word nie. Keer uit op ‘n draadrakkie en laat afkoel. Dien op saam met lekker vars botter en geniet. As jy die standaardpanne soos hierbo gebruik, sal die beslag genoeg wees om twee mooi broodjies te bak...