20
Mon, May

Cakes
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Tot relatief onlangs was Suid-Afrikaners nog maar taamlik onbekend met bloubessies – ‘n vrugtebessielekkerny wat die afgelope ses tot agt jaar ‘n groot oplewing in Suid-Afrika beleef het. Tans (November) is dit feitlik die hoogtepunt van die jaarlikse bloubessieseisoen en daar is nie ‘n einde aan die rits gebruike met bloubessies nie.
Ja, teen hierdie tyd is die meeste mense lankal bekend met bloubessieterte, bloubessie-kaaskoek en bloubessiepoedings in ‘n verskeidenheid weergawes. 

Met Rustenburg Herald se landbou-artikel oor Alicedale Berries in die sprokiesagtige Buffelspoortvallei in ons AgriPulse van verlede week, kon ons dit nie verhelp om die stroopsoet stoute skoene aan te trek nie en met die geheime van die bloubessie te eksperimenteer nie.

Ja, natuurlik het ons nie in die diep kant ingespring en sommer met ‘n bloubessie-kaaskoek weggespring nie. “Easy does it”, sê die Engelsman en dit is presies wat ons gedoen het – daarom dan – bloubessie-muffins! Maar moenie ‘n fout maak nie - hierdie is nie sommer “gewone” muffins nie – hierdie is ware bloubloed-lekkernye wat ‘n mens nie sommer vir “enigiemand” sal voorsit nie. Dié muffins het die gewoonte om sommer vinnig uit ‘n mens se bordjie te verdwyn. Boonop is dit so maklik soos val uit ‘n boom om te maak.

Bestanddele:

1 kg Golden Cloud Muffin Mix – (Vanieljegeur)
1 Koppie gehalfeerde vars bloubessies
200 ml olie
450 ml koue water
4 groterige eiers

Metode:

Klits die vier eiers, voeg water en olie by en meng goed. Gooi pakkie Golden Cloud muffin mix in ‘n medium-grootte mengbak uit. Maak ‘n holtetjie in die middel van die droë bestanddele en gooi dan die klaar-gemengde vloeistof daarin en meng deeglik tot ‘n egalige beslag. 
Spuit jou muffin-pannetjies baie goed met Spray n Cook of lê pannetjies uit met bakpapier. Skep die beslag versigtig uit in minstens twee groterige muffin-pannetjies en onthou om nie die holtetjies te hoog te skep nie aangesien die muffins kwaai rys soos dit gaar word. ‘n Mens het gemiddeld vier pannetjies vir hierdie hoeveelheid beslag nodig – ons het slegs twee pannetjies gebruik en ‘n muffin-broodjie in ‘n broodpannetjie met die oorblywende beslag gebak. 
Bak sowat 15 tot 20 min teen 180°C in voorverhitte oond. Haal uit, laat effens afkoel en haal uit muffinpannetjies. Jou buurvrou (en die kinders) sal saamstem dat hierdie net die regte goedjies vir ‘n ontydige hongerkolletjie op die maag is.