21
Sat, Dec

Cakes
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Nouja, oor ‘n rapsie meer as ‘n maand gaan baie Suid-Afrikaners se tafels weer kruin onder die kersfees-etes, soetbederfies, soettand-versnaperinge en natuurlik, poedings, terte en vrugtekoeke. Teen hierdie tyd van die jaar, met Kersfees nie veel meer as ‘n maand-en-‘n-half ver nie, het meeste knap boervroue, huisvroue of werkende vroue (werk hulle nie maar almal omtrent altyd nie?) se kersspyskaarte reeds lankal gefinaliseer, maar vrugtekoek sal sekerlik op die meeste mense se tafels wees.

As jy vanjaar dalk lus is vir ‘n bietjie afwisseling/eksperimentering met jou gebruiklike vrugtekoekresep mevrou, probeer gerus hierdie weergawe van Anita Upton van Rustenburg in Noordwes. Anita was vir jare een van die Vrouelandbou-unie se voorslag-baksters uit hierdie omgewing. Anita maak haar vrugtekoek so:

Bestanddele:
500 g vrugte-koekmengsel
1-en-half koppie suiker
250 g margarien
3/4 koppie water
1 pakkie dadels (gesnipper)
1 pakkie kersies
2 tl koeksoda
1/2 koppie melk
3 eiers
3 koppies meelblom
2 tl kaneel
1 tl gemmer
1/2 tl gemengde speserye
1/4 tl sout

Metode:
Kook vrugte, suiker, margarien en water vir 10 min. Laat afkoel.
Voeg kersies en dadels by. Los koeksoda op in melk en voeg by vrugtemengsel.
Voeg geklitste eier by.
Sif nou die droë bestanddele saam en roer by.
Voer ‘n koekpan uit met foelie en smeer goed. Gooi mengsel in voorbereide pan.
 Bak teen 160°C vir 1 uur of tot gaar.
Gooi ongeveer 100 ml brandewyn oor die koek terwyl dit nog warm is.
(Party mense verkies die vrugtekoek sonder die brandewyn – dit is vir jou om te besluit
 – dit gee egter ‘n heerlike diep en warm geur.
Laat koud word in pan.
Vir mense met  groot families word die resep eenvoudig verdubbel en jy bak twee koeke wat jy bo-op mekaar stapel of een-een bedien net soos jy verkies.
As jy dalk vir meer uiteenlopende smake voorsiening wil maak, is dit ook ‘n goeie idee om dalk een van die koeke in oulike kerstema-motiewe te versier –
soos ons voorbeeld van Anita Upton in hierdie artikel. Lekker bak, lekker eet en ja, baie geseënde kersfees wanneer jy en jou gesin oor ‘n klompie weke die kersboom se liggies saans begin aanskakel!
Mmense wat egter nie die vrymoedigheid het om hul kersboeke self te bak nie, is welkom om Anita Upton te skakel en by haar te bestel.
 Skakel Anita by 072 118 5451.