21
Sat, Dec

Cakes
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ja, ons weet - as jy nou regtig nie weet hoe om 'n heerlike maar "vrolike" sjokoladekoek in die kombuis op te tower nie, is daar altyd die eenvoudige resepteboek. Ons is egter nie so seker of jou resepteboek vir 'n regte dogtertjie- of seuntjie-koek voorsiening maak waarop jy jou kinders of kleinkinders of dalk vir kleinboet of sus op sy/haar verjaarsdag kan trakteer nie. Die beste van alles is dit hierdie sjokoladekoek jou skaars 15 minute sal neem om aanmekaar te slaan en boeta gaan voorwaar sommer die hele naweek met 'n breë glimlag op sy gesig rondloop.

Soos ons onlangs aangekondig het, Rustenburg Herald se "Raak die 'klits' kwyt" het ons laaste kuiertjie vir vanjaar met die 10 finaliste in van die Mev Rustenburg 2018-kompetisie met hierdie soettand-bederf afgesluit. Selicia Richter, Jessica Brits en Marelize van Jaarsveld is die dames met wie ons vandeesweek in die kombuis baljaar. Ons lesers het onlangs ook met Marelize se vinnige en heerlike kerriehoendersop kennis gemaak. Vandeesweek se lekker vinnige sjokoladebederf is die skepping van Selicia en Jessica… 

Bestanddele:

1 koppie meel
1 koppie suiker
1 teelepel bakpoeier
3 teelepels kakao
‘n knippie sout
2 eiers
1 teelepel kookolie
1 teelepel Vanilla-ekstrak
1 koppie kookwater.


Metode:

Meng die meel, suiker, kakao, bakpoeier en die sout saam. Voeg
dan die kookwater, Vanilla-ekstrak en olie by die mengsel. Meng deeglik en voeg dan die kookwater by. Meng alles goed deur totdat daar geen klonte in die mengsel is nie.
Berei ‘n silicon-mikrogolfbak voor met "Spray n Cook" en gooi die
mengsel in die bak. Plaas die bak in die mikrogolfoond vir 6 minute op hoë
temperatuur. Verwyder die bak en laat vir 5 minute afkoel. Haal die koek uit die bak en versier na met allerlei vrolike, kleurvolle stukkies sjokoladelekkers, gesmelte sjokolade van jou keuse of wat jy meen jou seuntjie of dogtertjie gaande sal hê. Geniet wanneer deeglik afgekoel en geset en steek baie goed vir pa weg…