In verlede week se “kook” het ‘n jong kannetjie wat voorwaar sy eie (en boonop heerlike) sjokoladekoek bak, baie van ons geïnspireer om die flukse handskoene aan te trek en in die kombuis doenig te raak. Wat is dan nou lekkerder om die gesin met ‘n vars baksel beskuit, ‘n heerlike tert of dalk die jongste baksensasie in die kookboek te verras? Des te meer as daar ‘n heerlike, luilekker naweek is waarna uitgesien kan word.
Naweke en lekker lang vakansies moet verkieslik egter nie die enigste tye wees dat ons voorslagdames die resepteboeke begin deurblaai en iets wonderliks in die kombuis “opklits” nie. Onthou – daar is baie spesiale geleenthede soos Vadersdag, (Moedersdag ook pappas) en natuurlik die kleingoed se verjaarsdae wat ‘n opregte poging regverdig! Niemand hoef enige ma te vertel nie dat ‘n tuisgebakte verjaarsdagkoek en ‘n paar ekstra versnaperings vir Boeta of Sus aansienlik meer sal beteken as ‘n koek wat êrens oor ‘n toonbank gekoop is. (Met apologie aan ons tuisnywerhede en soortgelyke instansies – ons besef dat nie almal die tyd, die ywer en die vaardighede het om wonderwerke in die kombuis ‘n alledaagse verskynsel te maak nie).
Maar nouja, genoeg gepraat en nou is dit tyd vir aksie. Twee mammas wys vandeesweek vir ons hoe om ‘n baksel pragtige kolwyntjies op te tower – hierdie kolwyntjies is sonder twyfel pragtig genoeg vir ‘n koninklike banket (hoewel die kleur in hierdie geval waarskynlik meer by ‘n jong prinsessie as ‘n prinsie byval sal vind. Hoe dit ook al sy – Aspoestertjie kan haar enigste skoentjie agterna gooi vir ‘n spoggerige baksel “cup cakes” soos hierdie.
Irma Fourie en Lavonne van Rooyen is ons twee baasbaksters en die metode is soos volg:
Bestanddele:
375ml Sasko koekmeel;
15ml Moir’s bakpoeier;
2.5ml sout;
250ml melk;
90ml sonneblomolie;
250ml suiker;
3 eiers;
5ml Moir’s vanieljegeursel.
Metode
Sif die meel, bakpoeier en sout saam. Verhit melk en olie, laat effens afkoel, klop suiker, eiers en vanielje saam tot romerig en lig. Voeg meelmengsel en melk-en oliemengsel by, meng en skep in kolwyntjiekoppies in ‘n “muffin”pan en bak in ‘n voorverhitte oond teen 180 °C vir 15 - 20 minute. Laat afkoel.
Wenk: Voeg 60ml kakaopoeier by mengsel en vervang die wit sjokolade in die versiersel met melksjokolade vir ‘n sjokoladevariasie.
Versiersel
140g botter;
140g versiersuiker;
100g wit sjokolade (gesmelt);
Moir’s voedselkleursel;
Metode:
Klop saam en kleur met die kleursel van jou keuse. Versier met silwer balletjies en strooiversierings. (Bogenoemde is genoeg om ‘n baksel van 36 kolwyntjies te bak…)
Wenk: As jou verjaarsdag-gas ‘n seunskind is, kleur jy jou versiersel eenvoudig blou of enige ander kleur waarvan hy hou en siedaar – jy het ‘n fees!