20
Mon, May

Confection
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Die reuk van boerbeskuit laat mens in ‘n oogwink reis na die verlede. Vir Loraine van Antwerpen is dit haar ma se kombuis. Maar o wee, met ‘n suurdeegplantjie kon sy nog nooit regkom nie. En dit is waar haar resep van ma Joey s’n afwyk, want sy het uiteindelik ‘n resep met kitsgis gekry en met ‘n bietjie twist hier en daar, glo sy dat haar meesterbakker van ‘n ma ook gelukkig sou wees. “As kind het my ma altyd beskuit gebak met aartappelsuurdeeg, dan het sy altyd by haar vriendin, tannie Anna van Niekerk, ‘n suurdeegplantjie gekry as hare in die yskas ‘doodgegaan’ het,’’ vertel sy. Dié plantjie is dan weer ingesuur met gerasperde aartappels en rosyne en moes dan vir ‘n paar dae staan en gis tot hy reg is. “Saans moes ons, dit voel vir my dit was altyd ek, vir haar die meel kom insif as sy geknie het in ‘n groot erdeskottel. Ons is sewe kinders, so sy moes báie beskuit bak!’’ Vir die uitgerekte proses het die eiendomsagent van Klerksdorp nie altyd tyd nie.

Loraine onthou hoe die deeg eers toegemaak is met ‘n groot plastieksak en dan met ‘n kombers - in die winter het die skottel sommer ‘n warmwatersak ook opgekry om seker te maak die beskuit rys mooi! Dit moes deur die nag rys, en vroegoggend was ouma op om te kyk of haar baba mooi gerys het... en dan word daar beskuit gebak.

Die eindresultaat het altyd die monde laat kwyl. “Wanneer ons van die skool af gekom het, het die hele huis beskuit geruik en dan het ons daai vars beskuit warm uit die oond geëet met botter! Die res is oornag in die oond gedroog.’’ Loraine vertel sy het in lockdown (gedurende die pandemie) die hele proses met aartappelsuurdeeg probeer, maar helaas, die plantjie het dit nie gemaak nie en sy het besluit nooit weer nie. Haar gesondheidsbeskuit is baie makliker om te bak. Probleem is, haar oudste, Lenro, nou op universiteit, is nie mal oor sy ma se nuwerwetse gesondheidsbeskuit nie, en so het haar soektog begin na ‘n boerbeskuit met kits suurdeeg. Nadat sy heelwat resepte probeer het, het sy dié resep ontwikkel en die eindresultaat is ‘n sukses. “Dis nou nie so lekker en veerlig soos Ouma Joey s’n nie, maar ‘n goeie plaasvervanger. Dit voel of ek die hele oggend saam met my ma in die kombuis was - soveel kosbare memories met elke bolletjie wat gerol is, die reuk in die kombuis tot die breek van die beskuit om gedroog te word.’’

Die beste manier om boerbeskuit te maak is maar op die tradisionele manier – broodpanne en die deeg in bolletjies afgedruk tussen jou vingers. Hulle moet so lekker “rustic” lyk as jy dit uitmekaar uit breek. Hierdie resep is geskoei op die outydse aartappelsuurdeeg beskuit, maar dis net met kitsgis gebak. Die deeg word in twee dele aangemaak.

Bestanddele:

Deel 1 van deeg (spons)
250g botter
3k suiker
4k melk
6 eiers, geklits
1kg koekmeel
2 pakkies kitsgis (10g elk)

Kook melk, suiker en botter saam net tot botter en suiker gesmelt is. Laat afkoel. 
Klits 6 eiers by afgekoelde melkmengsel.
Meng die meel en gis saam in ‘n groot skottel (ongeveer 40cm in deursnee).
Voeg die afgekoelde melkmengsel (maar nogsteeds lou sodat die gis lekker ontwikkel) by die meel en klits met ‘n draadklitser tot ‘n gladde deeg vorm (baie slap deeg).
Bedek die skottel met plastiek (glad wrap) en laat staan vir ± 45 minute tot 1 uur (dit sal skuimerig wees). 

Deel 2 van deeg
1,5kg meel
5t sout

Voeg die meel en sout by die slap deeg wat reeds gerys het en knie tot ‘n gladde deeg – knie tot die deeg nie meer aan jou hande vasklou nie, ± 10 minute.
Bedek die deeg weer met plastiek en laat rys op ‘n warm plek tot dubbel die volume, ± 1 uur.
Voorverhit die oond tot 1600C. 
Smeer 3 broodpanne (12 x 35 cm) en voer die bodem met was-/bakpapier sodat dit maklik uit die pan kom wanneer dit uitgegooi word. Onthou om die papier af te trek sodra jy dit uit die panne gooi.
Knie die deeg af en maak deegballe (knyp dit tussen die wysvinger en duim af). Pak 3 in ‘n ry styf teenmekaar. Daar pas so 8 rye van 3 in ‘n pan.
Bedek die panne met plastiek en sit op ‘n warm plek om te rys.
Bak vir ongeveer 45-50 minute of tot gaar.
Sodra die beskuit uit die oond uit kom, verf ‘n mengsel van 2 eetlepels suiker opgelos in 50ml kookwater bo oor die beskuit om dit ‘n mooi blink kleur te gee.
Laat afkoel, breek die beskuit in stukke & droog in die oond.
Droog die beskuit oornag, of andersins vir ± 6-7 ure in ‘n oond van 900C (sit ‘n lepel in die oonddeur sodat dit op ‘n skrefie oop is.)