21
Sat, Dec

Confection
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Oor die afgelope klompie weke het Rustenburg Herald se kookspan al te lekker saam met die VLU-dames van Zeerust gekuier en ons het nie minder nie as vier, vyf keer saam met ons gasvroue in hul kombuise gekuier. Ons is baie dankbaar dat die dames van Zeerust en Groot-Marico hulle harte en kombuise vir ons oopgemaak het en ons sluit vandeesweek die lekker Bosveldkuier op ‘n stroopsoet noot af. Die seniorlid van ons Zeerust-uitstappie, tant Judith van Heerden - maak hierdie week vir ons lekker soet koeksisters en wys vir ons dat dit eintlik glad nie so moeilik is om te maak nie. ‘n Mens moet maar net so ‘n bietjie georganiseerd wees en kophou - die res spreek maar eintlik vanself... 
Voor ‘n mens begin om koeksisters te bak, moet jy natuurlik weet dat jou stroop al die dag voor die tyd aangemaak moet word - jy laat dit afkoel en bêre dit in die yskas tot wanneer nodig. Met koeksisterdag maak jy soos volg:

Bestanddele
4 koppies koekmeel 
4 teelepels bakpoeier
1 teelepel sout
2 onse botter (ongeveer 2 eetlepels)
2 eiers geklits
1 koppie water

Metode
Sif die koekmeel en bakpoeier saam. Vryf die botter in jou meelmengsel in en voeg die eiers en water by die droë bestanddele en meng tot ‘n mooi sagte deeg. Laat die deeg vir ongeveer ‘n uur staan. Rol dan jou deeg uit tot ongeveer 1cm dik en sny dan jou stroke van ongeveer 1cm breed en vleg in koeksisters van enigiets tussen 8 tot 12 cm lank...

Stroop
Die stroop maak jy soos volg:
7 koppies suiker
4 koppies water
10 ml goue stroop

Roer die suiker in die water in tot dit goed opgelos is. Kook vir 5 minute saggies. Laat afkoel en voeg 2.5ml kremetart by. Voeg geursel by en voeg 30ml suurlemoensap by. (Soos reeds gesê - laat afkoel en bêre in yskas tot volgende dag).

Metode
Jy diepbraai jou koeksisters in redelike warm olie tot gaar. Plaas die koeksisters een-vir-een in die warm olie en diepbraai tot mooi goudbruin aan alle kante. Draai dit met ‘n houtlepel in die olie om om seker te maak dit is oral ewe bruin/goudkleurig. Maak seker dat dit aan die binnekant ook gaar is as jy dit dalk nie heeltemal goudbruin verkies nie.

Haal dan versigtig uit, doop mildelik in jou koue stroop en plaas uit op bordjies, bakkies of papierhanddoek om af te koel en effens droog te word.

Sodra die stroop taamlik gestol en afgekoel het, is dit gereed vir die yskas. Maak egter seker dat jou houer nie “toe” is as jy in die yskas sit nie, anders word die koeksisters vining pap. Die houer mag egter toe wees as jy dit in die vrieskas bêre... Haal die koeksisters sowat ‘n halfuur voor dit bedien word uit die yskas en laat dit toe om kamertemperatuur te bereik. Sommige mense verkies om dit kouer te bedien, veral as dit lekker brosserig is, dan sukkel ‘n mens nie so baie met druppende stroop nie. Hoe dit ook al sy - baie lekker! Dankie tant Judith en julle pragtige Bosveldmense!