Diegene van ons wat Joubert Reed (Snr) - (voorheen van Rustenburg) ken sal dadelik kopskuddend beaam dat hy maar altyd vir 'n sake-idee op die uitkyk is. Dieselfde gene is natuurlik in klein Joubert (Jnr - agt jaar oud) se bloed. Met pa en ma se hulp het klein Joubert so 'n maand of wat gelede begin om 'n lekkergoed-"nywerheid" met werklik groot potensiaal op die been te bring. Maar 'n aanvoeling vir die sakewêreld is nie al wat Joubert Snr en Jnr in gemeen het nie. Net soos 'n kop vir besigheid, is die liefde vir die grond polsend in hul are en almal sal saamstem dat "Plaasbrak" 'n unieke naam vir 'n lekkergoed-besigheid is. Maar kom ons wed jou, as jy eenmaal jou tande in daardie heerlik-sagte fudge geslaan het, kan jy seker wees dat jy die naam Plaasbrak vir lank sal onthou.
Die motivering agter Plaasbrak-lekkers was om klein Joubert te leer dat geld nie uit die lug val nie en dat 'n mens hard daarvoor moet werk. Joubert doen soos "alle" seuntjies maar los takies en werkies in en om die huis om 'n sakgeldjie te verdien, maar het op 'n dag verder as sakgeld begin dink en toe aan pa en ma begin torring oor hoe 'n besigheid "werk"... Hoewel daar allerlei "ups en downs" en stampe en stote was, is die res geskiedenis soos ons sê en Plaasbrak spog nou al met 'n grimmige knor as ons in die oortreffende trap kan praat...Een van die grootste suksesse van Plaasbrak, is klein Joubert se fudge wat hy in nie minder nie as vier verskillende variëteite aanbied. Ons het met die proe-slag vir die Reeds gesê dié fudge is van die lekkerste wat ons al ooit geproe het, en nee, ons bak nie hier mooi broodjies nie - ons bedoel dit met alle erns... Hoewel klein Joubert darem net te veel van 'n besigheidstrateeg is om sy sakegeheime te verklap, deel hy darem sy resep vir 'n baie lekker fudge met ons - komaan bederf die kinders en die soettande hierdie naweek by die huis (ja, en hier is ons alweer by die soetgoed).
Plaasbrak se rifrug-fudge
180ml (160g) botter
75ml gouestroop
1 blik kondensmelk
325ml kookmelk
1.2kg witsuiker
140g (250ml) koekmeelblom
2ml kremetart
5ml vanielje
Metode:
Smelt die botter en gouestroop saam. Voeg die kondensmelk en die kookmelk by en meng. Jou plaat moet op 'n lae hitte wees. Meng suiker en koekmeelblom saam, meng dan by die melkmengsel en meng goed. Hou aan om die mengsel te roer totdat dit begin kook.
Voeg nou die kremetart by sodra mengsel kook. Kook vir ongeveer 25 minute oor lae hitte (Moenie ophou roer nie anders gaan die mengsel aanbrand) tot dit sagtebal-stadium bereik (as jy 'n lepeltjievol van die warm mengsel in koue water gooi, vorm dit 'n sagte balletjie.
Haal van die stoof af en voeg vanielje by. Gebruik 'n houtlepel en klop tot redelik styf en romerig. Gooi die mengsel in 'n gesmeerde bak van sowat 28x18 cm. Maak dit gelyk en sny 'n rukkie later in blokkies (in lekker bytgrootte-happies of net soos jy wil...) voordat dit te hard is.
Geniet dit, hou maar net jou suikertelling dop! Hierdie resep lewer ± 5 tot 6 dosyn blokkies.
** Wenk: Gebruik 'n kwassie wat in water gedoop is om die suikerkristalle aan die kant van die kastrol af te vee.