Daar is darem maar min dinge in die lewe so lekker soos lekker eet! En as jou kook- of bakwerk boonop glimlagte kan teweeg bring, die kreatiwiteit in jou kan losmaak en kan help om die winterkoue te verdryf – nog beter!
Juffrou Liezl Wallis en Laerskool Rustenburg se Dino-klas (graad R) het die Rustenburg Herald genooi om te spog met hul meester-bakvermoë en om te wys hoeveel pret mens nou eintlik by die skool kan hê! Juffrou Liezl het gesorg dat elke Dino ‘n kans kry om te sif, klits, meet of skep – en hierdie resep is dus ideaal vir ‘n heerlike baksessie saam met die hele gesin. Natuurlik was die heel beste deel van dié saambak/saamspook-geleentheid om die wafels na die tyd op te kikker met heerlike vars vrugte, geklopte room en allerlei interessante soet versiergoed.
Die dinos kon ook aansit by Juffrou Liezl se fraai gedekte piekniektafel vir lip-lekker “hasie-melk” (Nesquik) na hulle bak-en-brou-sessie!
Bestanddele:
3 koppies meel
6 teelepels bakpoeier
4 teelepels suiker
¼ koppie olie
2 koppies melk (of Ideal melk vir ’n Milky Lane-geur)
1 koppie water
4 eiers (geskei)
• Meng al die droë bestanddele saam
• Skei die eiers
• Meng al die nat bestanddele saam (sonder die eierwitte)
• Voeg al die droë en nat bestanddele saam en meng deeglik
• Klits eierwit styf en meng dit versigtig in die beslag in
• Verdun met water, soos nodig
• Skep die beslag in ‘n voorverhitte wafelmaker en bak tot ligbruin
• Skep uit en laat afkoel
• Versier jou wafel en geniet!