20
Mon, May

Pastries
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Het jy geweet daar is ‘n pertinente verskil tussen ‘n souttert en ‘n “quiche”? En dit is nogal ‘n groot verskil! Basies gaan dit daaroor dat ‘n soutterd se beslag uit feitlik uitsluitlik ‘n eiermengsel bestaan terwyl jy quiche met ‘n deeg-, room- en kaasmengsel maak. Maar natuurlik is daar ook ooreenkomste tussen quiche en soutterd, naamlik dat jy worsies, fyn vleis of hoender as jy wil,, stukkies groente soos sampioene en ‘n bietjie (of baie kaas) in albei gebruik en die belangrikste natuurlik, dat albei regtig vreeslik lekker is. ‘n Mens raak nie sommer maklik moeg vir soutterd of quiche nie en hier in die hartjie van die winter is dit darem al te lekker om ‘n heerlike vars en warm quiche uit die oond te haal.

Rustenburg Herald se ‘Raak die “klits” kwyt’ het tydens ons jongste uitstappie “platteland” toe by ‘n baie vriendelike klompie dames op Derby gaan kuier. Soos ons gereelde lesers teen hierdie tyd weet, is ons steeds besig met ons reeks oor die Platinstreek van die Vrouelandbou-unie. So kyk gerus uit, oor ‘n paar weke of wat wyk ons uit Brits toe.

By Annemarie van Niekerk - voorsitter van die VLU se Derby-tak het ons sekerlik aan die lekkerste quiche gesmul wat ons in ‘n lang tyd teëgekom het. Annemarie was een van drie dames wat vir ons ‘n paar gunstelinghappies voorberei het en was dit nie ‘n lekker dag nie? Annemarie maak vir ons ‘n Sampioen-, spek- en parmasaanquiche en ‘n mens doen dit so:

 

 

Bestanddele
Kors 
250ml koekmeelblom
250ml gerasperde Cheddarkaas
125g Margarien

Vulsel
250g swoerdlose spek gekap
15ml Margarien
250g sampioene gesny
3 eiers
25ml vars room
125ml suurrroom
15ml suurlemoensap
50ml Parmasaankaas
3ml mosterdpoeier
3ml sout
2ml “vegetable spice”
2ml gemengde droë kruie of 60ml vars kruie
Varsgemaalde swartpeper na smaak

Vir kors: Meng al die bestanddele saam tot sagte deeg. Voer ‘n 24cm quiche-bord met deeg uit.

Vir vulsel: Braai spek tot bros, voeg margarine en sampioene by en braai tot gaar. Skep vulsel in quiche-kors. Klits eiers, room, suurroom en suurlemoensap saam. Voeg Parmasaankaas en geurmiddels by en giet oor vulsel in quiche-kors. Bak vir 45 minute in voorverhitte oond teen 160°C.

“Ek strooi Grani de Sole Provenza (gedroogte Parmasaan, roosmaryn, basillie en origanum oor die vulsel voor ek bak”, vertel Annermarie verder. Indien jy nie van Parmasaankaas hou nie, vervang dit eenvoudig met ‘n halfkoppie Cheddarkaas by die vulsel. Lekker eet - dankie Annemarie!

(Rustenburg Herald bedank graag vir Pam van Rensburg (voorsitter van die VLU se Platinastreek) wie se bydrae ten opsigte van die organisering van hierdie reeks van onskatbare waarde is...).